Frau Bosch

Skool was nie ‘n tyd waarna ek verlang nie, behalwe miskien vir die rugby na die tyd, maar vanmore sit die uwe en terugdink aan my skooldae, en spesifiek aan my Duitse onderwyseres Mevrou Bosch, of Frau Bosch soos sy verkies het ons haar aanspreek. Voor ek verder gaan moet ek dit noem, en ek stel dit so sagkens as moontlik, dat frau Bosch gebou was soos ‘n olimpiese gewigstoter en met die humeur van buffel met ‘n seer tand. Glo my, ‘n dodelik gevaarlike kombinasie!

Drie staaltjies oor Frau Bosch sal my altyd bybly. Die eerste een was toe ons nog in standerd 7 was (graad 33 en 1/3 in die nuwe taal). Geskiedenis was verpligtend tot en met einde standerd 7, en Frau Bosch was ook ons geskiedenis onnie. Sy het nooit gelag nie, nie eers ‘n effense glimlag nie. Jy kon die snaakste sêgoed opdis, en sy het jou net so stip aangestaar met daai donker mamba ogies. Tot dié dag. Ons les was oor die middeleeue en daar was ‘n prentjie in die boek van Willem Wikkelspies, oftewel William Shakespeare. Ewe droogweg merk my pêl Koos op dat hy ‘n oorbel dra, en daar begin Frau Bosch lag. Sy lag amper die helfte van die periode om, en dit oor iets wat nie eers so snaaks was nie.

Die ander (minder aangename) herhindering aan frau Bosch was Maandae. Maandag was Duitse spelling dag. Frau Bosch gee jou ‘n woord, en jy moes dit op die swartbord gaan skryf. In Duits word dit ‘n wandtafel genoem, maar Frau Bosch se woord was brandtafel. Die “latjie” waarmee sy jou reggehelp het was inderdaad ‘n size superlarge krieketkolf wat Justin Kemp met moeite so kon oplig, sy het dit sommer so met die een hand beheer. Die ding was so swaar, as sy jou geraps het, het daar ‘n afdruk van jou lyf in die muur gesit! Jy het letterlik ‘n brandende begeerte gehad om jou woorde reg te spel.

Die derde en snaakste staaltjie is die een more toe ons toets skryf. Nadat almal (‘n hele 6 van ons) hulle vraestelle gekry het, gee Frau Bosch die opdrag anfangen (Germaans vir begin). Ewe onskuldig vra die einste Koos “wat moet ons aanvang Frau Bosch?” Met een rughand klap het Frau Bosch hom uit sy stoel gelig sodat hy netjies met sy agterstewe op my tafel agter hom te lande gekom het. Nodeloos om te sê, witty op- en aanmerkings het drasties afgeneem daarna.
Ek wonder of frau Bosch vandag nog leef?

N.S. Eendag as ek groot is gaan ek Meganiese Ingeneurswese studeer in Duitsland. Haha, hoe naief kan ‘n kinnertjie van die verkeerde kant van die trainspoor nie wees op ouderdom 15 nie?

Advertisements

Die tannie met die blou volksie

Woensdae is bejaarde dag hier in die pikante dorpie van Tswatoria wanneer al die kettingwinkels spesiale aanbiedinge het vir pensionarisse. Soos my geluk dit wou hê, is dit toe juis op ‘n Woensdagoggend wat die uwe nodigheid kry om ‘n pakkie te loop aflewer in Brooklyn, en ‘n tydsbeperking het om terug te kom by my eie kantoor in die Noorde.

By die Brooklyn sirkel beland ek toe waaragtig agter ‘n spierwit grys tannie in ‘n blou volksie, waarvan sy in alle waarskynlikheid nog die eerste eienaar was. Na wat gevoel het soos ‘n goeie 5 minute se wik en weeg, het die tannie uiteindelik besluit om ook maar die kans te vat en te ry. Veilig om die sirkel peil sy reg in die middel van Duncan (nou Jan Shoba) straat al die pad tot waar die baan dubbel word. Daar het sy langs ‘n ewe oud omie ingeval en saam-saam het hulle die verkeer teen ‘n rustige 45km per uur opgehou.

Ek ly nie aan padwoede nie, ek IS padwoede, so die revolusies my moermeter loop toe nou al diep in die rooi. Ek het geswets, en getoeter en lawaai . . . maar die tannie kruie rustig voort. By die eerste geleentheid in Steadlaan draai ek toe af en vat kortpad verby die kinderhuis. Jaag soos ‘n mal ding deur die woonbuurt, net om die blou volksie te sien verbygaan by die aansluiting met Pierneefstraat.

Links gedraai in Pierneef sien ek hoe die tannie in die ry staan om te draai in 30ste laan -presies waar ek wou draai ! Ek jaag toe maar verby en loop draai in Fratesweg. Terwyl ek staan en wag vir die robot by Michael Brink (nou Nico Smit), kom die blou volksie wragtag weer verby, steeds teen ‘n bestendige 45km per uur!

Ek sien toe nou nie weer die volla nie, en ek neem toe aan die Tannie het by haar bestemming aangekom, tot in Wonderboompoort. Raai wie ry (weer) reg voor my? Yip, die stokou grys Tannie met die blou volksie!.

Dit sit my toe aan die dink. Hier jaag ek soos ‘n mal ding, terwyl die tannie rustig aankruie. En nadat ons regoor die hele stad gery het, is sy steeds voor my. Toe ek by die huis kom, gaan loer ek vir die eerste keer in maande na die aanhaling op my Skype profiel boodskap: “Remember that the most difficult tasks are consummated, not by a single explosive burst of energy or effort, but by the constant daily application of the best you have within you.”

As ek maar net ‘n bietjie rustiger word, elke dag doen wat ek kan, dan sal ek ook daar uitkom. Met my werk, met my pogings om my lyf te herwin uit die kloue van vetsug, my huwelik, met alles. Dankie onbekende-gryskop-fossiel-tannie-met-die-blou-volla vir die lessie in geduld.

N.S. Na my meltdown vroeg in 2017 en die toevoeging van ‘n besoek aan die marshmellow paleis, top shelf fokjou pilletjies en duur terapie is my roadrage heelwat beter.

Tequila, Takuzza, Te jammer

Die storie speel etlike jare gelede af, toe ons nog in ons prille jeug was en van brieke daar geen sprake was nie. Heelwat van die karakters is al intussen ingespit.

Dit was ‘n Saterdag, en alhoewel dit in die middel van die winter was, was dit lekker warm op Zeerust in die Marico distrik. Ons het pas op die dorp aangekom uit Pretoria uit, op pad na ‘n familie geselligheid. Oom Johan (oupa Jôhnie vir ons) en ouma Hester (Vaalvrou waar sy ons nie kon hoor nie) vier hulle 50ste huweliksherdenking in die landbousaal op die die dorp en die hele distrik is daar.

Nou kyk, in die Marico is dit glad nie ongekend dat so ‘n ou geselligheidjie sommer maklik vir ‘n hele naweek kan aanhou nie, en innerlike versterking is dikwels al wat jou lewendig deur so besigheid kry, mits jou lewer dit kan uitstaan natuurlik! Die eerste stop toe ons die dorp inry was toe natuurlik die mansapteek…of drankwinkel as jy ‘n ding dan nou so blatant op sy naam wil noem.

Ewenwel, dit word wyd verkondig dat ‘n mens nie moet kruideniersware gaan koop as jy honger is nie, want dan word jou inkope as’t ware deur jou maag gelei. Nou uit bittere ondervinding (verskeie kere) kan ek nou ook getuig dat ‘n mens nie by die mansapteek moet aandoen as jy dors het nie. En daai dag was ons dors . . .

In die skemerdonkerte daar binne in die winkeltjie loop ons onself toe waaragtig vas in ‘n ou kennis van ons by name Olmeca. In daai jare was ons Mexikaanse pêl maar ‘n “petty thief” en sy borgtog glad nie te buitensporig nie, en synde dat ons begroting maar skraps is, vat dit nie veel beraadslaging gevat om hom van sy uitkykpunt op die boonste rak te bevry nie. Ek moes toe al geweet het dat hier moeilikheid kom, maar op vroeg-in-die-twintig is jy mos bulletproof.

Om ‘n lang storie kort te maak, daai aand is die eerste en enigste keer dat ek my liewe swaer se geselskap vir meer as 10 minute kon uitstaan. Ek het ook nie geweet my klein sussie kan so dors word nie! Maar dit is eers veel later wat die werklike sports begin. Aanvanklik was ek baie trots op my besluit om liewer by die gastehuis ongeveer 600 meter van die saal af te oornag, eerder as om nog die stuk pad plaas toe aan te durf. By ons kamer aangekom het ek die twee draaiende katels so rukkie staan en beskou, en besluit dat vir een aand kan ons maar op aparte bedjies slaap. Daar is geen manier wat ek die goed gevang kan kry om hulle teen mekaar te skuiwe nie. Toe my katel weer verby gesirkel kom, toe is ek op hom. Ek het so deur die slaapnewels gesien die van Helsdingen het haar kateltjie darem ook gevang.

Nie te lank daarna nie word ek wakker van iets wat klink soos ‘n baie dorstige kameel in die badkamer. Met baie moeite kon ek my een ooglid oopforseer, net om te sien dat dit net die van Helsdingen is wat die kouewater kraan met mag en mening aanval. Wyl ek toe wakker is, dink ek dit toe ‘n goeie plan om maar dieselfde te doen, synde dat ek darem maar ongelooflik dors is vir iemand wat so baie vloeistof aanboord geneem het. Net na ek weer my lê gekry het, begin die van Helsdingen uit haar hoek kla dat die goeters haar byt. Ons het naderhand die ligte aan, maar sien g’n niks van die goeters wat haar so byt nie, net die bloedspore wat ons onderskeie lewers op die vloer gelos het in hulle soeke na water. Uit pure desperaatheid ruil ons beddens, maar steeds kla sy die goeters byt haar. Sy het opgehou kla nadat ek histeries begin giggel het, en gevra het of Olmeca iets daarmee te doen het.

Skaars het ek ingesluimer of ek word wakker van die stemmetjie in die donker. Liefie, liefie….lieeeeefieeee. Huh!? is omtrent al wat ek deur my droeë keel kon forseer. Aag wil jy nie die Coke in die kar gaan haal nie, ek is nou vreeslik dors en die kraanwater smaak sleg, pleit sy uit die donker. Hoe kan ‘n mens dan nou so stemmetjie weier, en met net ‘n kort rugbybroekie durf ek die koue nag aan om vir die van Helsdingen koeldrank uit die kar te loop haal.

In retrospek dink ek die water het begin sleg smaak omdat die van Helsdingen waarskynlik die reservoir droog gedrink het daai aand. Hoe dit ook al sy, Marico partytjies is nie vir sissies nie, veral nie as die Mexikane ook daar is nie. Dankie tog vir spek, eiers, roosterbrood en moerkoffie, want daarsonder sou daai klein mannetjie nou nog paneelkloppery in my kop beoefen het.

Gravytorre, stofsuiers en die WWW

Twee dekades se somers het uitgeloop sedert Storieklong een more op ‘n konstruksieterrein met teebreek deur die koerant staan en blaai het en sy oog ‘n klein advertensie gevang het. ‘n Firma naby die huis was op soek na manne met sementspatels op hulle stewels om die eyetee laaities te kom help databasisse bou. Storieklong het nie regtig geweet wat presies eyetee of databasisse is nie, maar die gedagte aan ‘n lugverkoelde kantoor op daardie snikhete Desember more was genoeg om hom te laat aansoek doen en hy het jou wragtagwaar die werk gekry!

Die hoof eyetee laaitie was so ‘n rou Ingilsmannetjie vars van die moddereiland af, en hy was vir dié klong maar redelik onverstaanbaar. Eerstens omdat hy in ‘n dialek gepraat het wat ek tot op daardie stadium nog net in selfverdediging gebruik het, en tweedens omdat hy die vreemdste, wonderlikste goed gesê het. Hy het vertel van ‘n plek met die naam van die world-wide-wait, en van gravytors (of dit is hoe dit met die aksent vir my geklink het – later moes ek uitvind dit is gravatars) en van Wap-enabled selfone. En ek het getrou al hierdie wonderlike stories vir die Liefie saans by die huis gaan vertel, oftewel probeer vertel so goed as hy kon onthou. So het hy byvoorbeeld vir die Liefie vertel van die gravytorre van ‘n plek genaamd world-wide-wait wat ‘n selfoon gebou het met ‘n wap stofsuier in. Op haar stille manier het sy dan vir my beduie dat ‘n gravytor eintlik ‘n gravatar is, en dit is jou “prentjie” op die internet wat ook die world-wide-wait genoem was in die ou dae as ‘n grap, en dat wap-selfone nie regtig ‘n stofsuier in het nie. En Storieklong het geleer. En Storieklong het slimmer en slimmer geword. En dit was goed, en dit was lekker.

My se Pagoed was ‘n witman onder die vorige regering, en dit was genoeg om hom byna te verseker van ‘n werk. En met die geld wat hy verdien het kon die uwe kon skool toe gaan. En toe Pagoed weg is kon hy vir my een goeie bakkie en ‘n flenter bakkie en ‘n meer flenter mouterkar en ‘n paar stukkies gereedskap agterlaat waarmee ek nog geldtjies kon verdien en ek kon met daardie geldjies gaan leer sodat ek uiteindelik met daai geleerdheid die wonders van die world-wide-wait kon ontdek. Dit het alles begin omdat ek geleenthede gehad het.

Nou Sanna in die Kombuis en Sameul in die tuin het nie sulke geleenthede gehad nie, omdat hulle Pa en Ma swart was, en onder die vorige regering nie veel geleenthede gekry het nie. Hulle het nie eers soveel as ‘n paar flenter voertuie en gereedskap gekry om mee te begin nie. In baie gevalle was hulle nie eens langer as std 6 skool toe nie. Hulle het nodig om ‘n paar geleenthede gegee te word sodat hulle kinders ook eendag die wonders van gravytorre en stofsuier-selfone en die world-wide-wait kan ervaar. Dit moet seker wees wat bedoel word met white privilage?

Die agterstorie

Hierdie storie lyk omtrent soos een van die uwe se standaard joutjoep soektogte. Dit begin by die deugde van die internet en eindig by politiek, so vermoedelik was hierdie een van daardie random 2uur in die more griffels waar ek slegs geskryf het om die geraas in my kop stil te kry.

Threesomes en Fourways

Ja my vrou. Hindsight is 20/20 vision. Of so sê hulle. As ek net toe geweet het wat ek nou weet, sou ek dit nooit toegelaat het nie. Die 4 van ons in die bed begin my nou irriteer. Ek het nooit gedink ek sal dit sê nie, maar ek mis die dae toe dit ek en jy die die beneukte enetjie was.

Vandat ons daai honeyblond biets met die skeermeslem stemmetjie in ons bed toegelaat het was dinge nog net nooit weer dieselfde nie. Ja sure sy is sag op die oog met ‘n borskas waaroor gedigte geskryf word en bene gebou om te hou, maar mens kry nie meer ‘n behoorlike nag se slaap in nie. Sy het net nie einde nie, dan is sy die kant van die bed en dan anderkant. Dan is sy af kombuis toe en dan sit sy op die bank.

Ek dink dit is ook deels as gevolg van blondie se baldadigheid wat die beneukte enetjie deesdae aandring om tussen ons te slaap. Ons het van die begin af geweet beneuk moet op een of ander manier aan my raak om te kan slaap, maar regtig. Om jouself te vererg omdat ek nou en dan ‘n slag by my eie vrou in my eie bed wil lê, wie is die besoeker hier in elk geval?

Ek dink regtig nie die honde moet meer by ons in die bed slaap nie. Maar hoe oortuig ons hulle?

 

Agterstorie

Hierdie is nie ‘n storie nie, meer van ‘n vloermoer. Die titel en algemene luim daarvan is met opset bedoel om te mislei en die aandag af te trek van die werklike rede vir die griffel.

In my se moeder se huis was dit ‘n spesiale vergunning as die hond snags langs jou bed kon slaap. In die woning wat ek met die van Helsdingen poppie deel slaap die honde bo-op die bed. Alles het relatief goed verloop tot ten tyde van hierdie skrywe. Hoeveel plek kan een miniatuur worshond nou in elk geval opneem? Toe kry ons ‘n Engelse Bulhond met rooimiere, en die res is geskiedenis.

P.S. Beide honde waarna ek in hierdie skrywe verwys is nou alreeds mtrent 4 jaar oor die reënboogbrug, binne maande van mekaar. Tans slaap daar een, en soms twee, worshonde op die bed waarna ons spottend verwys as Durex en Trojan omdat hulle meestal tussen ons wil lê.

Hoe ek die balksaag titel verloor het

Dit sou onregverdig wees om te spog oor hoe ek die balksaag titel verower het, as ek nie ook vertel hoe ek dit verloor het nie.

Elf jaar het verloop sedert die uwe die titel van balksaag kampioen by Big Dee afgeneem het in die slag van Doringrivier. Die lewe hier aan die plaaskant van voorstedelike Tshwatoria gaan sy gang, ons het uiteindelik bure gekry wat skynbaar vas genoeg slaap dat die geraas hulle nie pla nie en die lieftallige vroutjie het geleer om haarself net so selektief doof te hou vir my se gesnork as wat sy doen wanneer ek wakker is. Alles baie voorspelbaar en banaal middelklas.

Iewers in Janniewarrie, rondom die tyd toe man-man kon begin voel dat die ergste winterkoue gebreek is en die dae begin opwarm, is die uwe weer een aand oudergewoonte besig om sy kwota saagwerk te vul toe ek bokant die gebrom van my eie gesnork hoor dat iemand anders nou besig is om in my plantasie te sny. Die uwe saag deesdae balke met die klein boomsagie eerstens vir ekonomiese redes: Betaaldag lê nog vêr oor die horison en as ‘n man goeie balke wil saag moet jy die saer die regte petrol voer. Steak en knoffel en rooiwyn en sulke uitspattighede wat nie juis inpas by ‘n middel Janniewarrie begroting nie. Tweedens raak man-man nou al bietjie lank in die tand om te wil afshow deur enigsins groter gereedskap te gebruik as wat absoluut nodig is om die taak af te handel.

Nie dat die uwe op daardie stadium enigsins bekommerd is nie. Menigdes het al kom probeer en tot op die man is almal huistoe met verstarde gesigte en bloedbelope oë. Ek draai toe maar net die sagie se oor so bietjie verder en klim onder ‘n klompie frisserige bome in, net om die nuweling te laat weet sy teenwoordigheid is bespeur. Onmiddelik gee die uitdager ook bietjie gas. Daar kon netsowel ‘n klok gelui het om aan te kondig dat hierdie nou ‘n titelgeveg is. Reg deur die nag jaag die uwe daai nuweling deur die plantasie, maar inhaal is min. So teen drie-uur het skoonma, wat op daardie stadium by ons aan huis was, besluit sy het nou genoeg gekuier en dring aan om onmiddelik te ry. Ek gebruik die groetery om die monstersaag met die skerpgemaakte Caterpillar D11 spoor vir ‘n lem uit die wendyhuis te loop haal, maar tien jaar se onbruik maak dat die ding nie aan die gang wil kom nie so ek moes noodgedwonge maar die vreemdeling pak met dit wat ek het. Heel nag jaag ek daai ou, maar teen opstaantyd is die stryd gewonne en die titel van balksaag kampioen het ‘n nuwe baas. My gesig was verstar en my oë bloedbelope.

Nou moes die geheimsinnige uitdager net opgespoor word sodat die titel oorhandig kan word. Die worshond kon onmiddelik uitgeskakel word as ‘n moontlikheid. So goed as wat hy kan snork, het hy nie naastenby die volume om die uitdager te wees nie. Die bulldog het die volume, maar sy het in die sitkamer geslaap en die uwe sou eerlikwaar baie bekommerd gewees het as sy daardie volume kom behaal oor die afstand ter sprake. Dit los net een moontlikheid, en dié raak toe so flussies wakker.

Na goeiemores en ek lief jou’s uitgeruil is bekruip sy my hier vanuit die linkerflank. “Ek het erg sinus, het ek jou gepla gisteraand?” Natuurlik was my eerste reaksie om AHA! te wil uitroep, maar ek beteuel myself. Ek het immers nie sou oud geword soos ek is deur onnosel te wees nie. Die vraag of die kern van jou bestaan jou gepla het deur die nag of op enige ander tyd moet met dieselfde gewigtigheid hanteer word as wanneer sy vra of haar wegstap duideliker gemaak word deur die broek wat sy aanhet. Die antwoord in beide gevalle is ‘n besliste NEE. Goeie argumente ter stawing is ‘n bonus, maar moet nou nie soveel aandik dat jy uitgevang word nie.

Dus met ego ietwat gekneus, hoewel heimlik bly dat dit sy is wat my titel afgeneem (in absentia toegeken) het en nie een of ander vreemdeling nie, sien ek haar af werk toe keer terug na die toneel van laasnag se geveg toe om self reg te maak vir ‘n dag op die soutmyn. Met die intrapslag hoor ek dit weer, die geluid van daardie varknek wat my titel gevat het wat balke saag. Ek ontdek hom bo-op die lostaande hangkas waar hy oopbek lê en slaap. Ek is my titel kwyt aan Kerneels die bleddie mannetjieskat, maar weereens kon dit baie erger gewees het: Ek kon die liefde van my lewe beskuldig het daarvan dat sy snork!

Daardie selfde oggend het die uwe begin om die monster saag se enjin te herbou en die lemme te slyp. Saans het ek oorleef op ‘n dieet van bees, perd, donkie of watookal hulle deesdae in die slaghuise verkoop saam met ‘n pond knoffel en twee gallon van KWV se beste droë rooi. Daai kat moenie dink die sakie is afgehandel nie. Ek was seer op soek na ‘n rematch!

Ongelukkig vir my was Kerneelskat nogal ‘n haan onder die henne (reggemaak of te not), en sy losbandigheid het veroorsaak dat hy in die rype ouderdom van 12 jaar lepel in die dak gesteek het na komplikasies a.g.v. van feline aids…voor ons ‘n herontmoeting kon hê. Kerneels bly dus die onoorwonne balksaag kampioen van die wêreld. ‘n Bitter pil om te sluk…bitter vertel ek jou!

Agterstorie

Die storie is natuurlik heeltemal ‘n versinsel. Engie iemand wat my al hoor snork het sal getuig dat ek nie gelyke het nie. Kerneels kat het regtig geleef, en hy was ‘n legende in ons buurt vir ander redes as snork, hoewel ek nog nie ‘n kat hoor snork het soos hy kan nie.

IMG_0491

Doringrivier balkesaag kampioen

Vir Danie (Big Dee) Vermeulen, wie se roudiens Vrydag is.
Jy kon mos, jy het mos!
Ek gaan ons steak lunches en lugkastele bou by die Botrivier hotel mis.
Nag ou grote. Safe travels.

Daar word beweer die verteller is allesbehalwe ‘n rustige slaper, en dat die enigste instrument waarmee die verteller se snork effektief gemeet kan word die richterskaal is.

Dit is al byna twee dekades of ongeveer veertig kilogram gelede, afhangend van die gekose maateenheid. Die uwe het pas vir ‘n derde maatskappy begin werk sonder om van lessenaar te verwissel, en die nuwe eienaar nooi die oorblywende klompie van ons wat die afgelope 3 jaar se korporatiewe “herstrukturering” oorleef het vir ‘n bosberaad gevolg deur ‘n drie dae white water rafting spanbou op die Doring Rivier.

Nou as jy moet vra waar die Doring rivier is, dan is jy klaar verdwaal. Kyk, as jy nou ry tot in die middel van nowhere en nêrens…en jy draai daar links, dan is dit nog so 130 kilometer! Die stuk van die Doring waar ons sou roei kronkel deur ‘n rafyn in die Cederberge met die basiskamp op ‘n plaas geleë kort neffens die Tankwa Karoo nasionale park, by ‘n plek genaamd “Die Mond”op daardie ellelange stuk grondpad tussen Ceres en Calvinia. Daar is ons bosberaad-cum-Codesa gehou.

Toe dit tyd raak vir slaapreëlings tref op die eerste aand word ek, as jongste in die maatskappy, saam met Big Dee in ‘n kamer ingedeel. Big Dee is ‘n man wat ‘n reputasie gehad het dat hy die chroom van ‘n Chevvy se wieldoppe kon afsnork, en menige kollega het al die volgende oggend met bloedbelope oë en ‘n verstarde gesigte tevoorskyn gekom uit ‘n kamer wat hy met Big Dee gedeel het, maar van al hierdie dinge wis ek natuurlik toe niks.

Man, ek het net so by die poorte van droomland verbygesluip toe ‘n vark my daar voorlê en beduie na ‘n hoop bome toe wat voor die volgende oggend planke gemaak moes word. Big Dee was klaar besig, so ek gryp toe maar self ‘n klein kettingsagie daar uit die gereedskapstoor uit en begin opwarm deur die klein takkies van die stompe af te sny. Aan sy ritme kon ek hoor dat Big Dee nou al behoorlik warm was, en kort voor lank toe hoor ek bokant die lawaai van my sagie hoe hy die groot ou treksaag laat sing deur die hout. Grrrrrrrr sjuuuuut. Grrrrrr sjuuuut. Die saagsels staan sommer so ‘n boog en ek besef as ek hier ‘n kans wil hê sal ek drasties moet planmaak. Ek loop ruil daai kettingsagie in die stoor vir die moeder van alle sae. Die ding se lem is ‘n caterpillar D11 bulldozer se een spoor waarvan die kante skerp geslyp is, en toe ek daai masjien start begin die hele kamer bewe.

En ek saag en Big Dee saag en die hoop planke raak al groter, maar ek kry hom nie ingehaal nie. Dis naderhand anderkant drie uur in die more maar nes ek dink nou het ek hom, dan verdwyn hy in ‘n boog van saagsels onder die volgende stomp in. Van sy kant van die hoop af klink dit nou kompleet soos die donderweer van ‘n hoëveldse donderstorm, maar ek durf nie opkyk nie, want om op te kyk sal my tyd kos. Die rooi van die nuwe dagbreek wys al goed ‘n halfuur op die horison toe ek die laaste plank sny en daai monstersaag afskakel. In die vroeë more-ure het die ouderdom vir Big Dee begin inhaal en ek kon hom verbyvat. Toe ek saggies by die kamer uitsluip was hy nog hard aan die saag.

In die kombuis kry ek tot my verbasing al my kollegas reeds wakker met koffie in die hand, hulle oë vreesbevange. Hulle vertel verskriklike stories van die onheiligste geraas, ligte wat uit die dak getuimel het en kaste wat omval. Pretoors moes glad sy katel deur die nag met bloudraad repareer nadat dit uitmekaar geskud het en twee ander manne wat ook in die kamp was vir ‘n jaguitstappie is glo deur die nag inderhaas daar weg, net so in hulle slaapklere. Die plaasboer steek sy kop by die deur in en sê dat hulle darem weer die listerpomp op sy fondasie kon terugkry en dat daar nou water in die tenks sal wees vir stort.

Ons was al almal klaar met ons ablusies en op ons derde koffie toe Big Dee met bloedbelope oë en strak gesig uit die kamer stompel en plegtig belowe dat hy nie omgee of hy kaalgat buite onder ‘n boom in die yskoue Junie Karoonag moet slaap nie, maar met my deel hy nooit weer ‘n kamer nie.

En dit was dit. Daardie aand slaap ek toe alleen in ‘n kamer, Big Dee het by Pretoorsie gaan intrek. Vir die drie nagte op die rivier het die hele groep eers gewag om te sien waar ek my tent opslaan voor hulle op die verste moontlike punt van my af hulle s’n gaan opslaan het. Sedertdien het ek nog altyd alleen in ‘n tent/kamer ingedeel as daar ‘n weggaan geleentheid was, tot meer onlangs toe ons ‘n spanbou met kwadfietse teen die Weskus op gehad het. Die laaste aand na ons die fietse teruggegee het slaap ons in die Laaiplek hotel op Velddrif, en kollega J word by my ingedeel, synde dat die hotel redelik vol was en hy die jongste in die maatskappy is. Toe ons gaan slaap gaan haal die ekspediese leier die haasboud uit die kar uit, trek die magasyn en gee twee rondtes vir kollega J. “Jy sal weet waarvoor dit is wanneer die tyd kom”, is al wat hy gesê het.

Nodeloos om te sê, toe kollega J opstaan was die twee rondtes nog stewig in sy ore vasgedruk. Die dokters reken as dit nie daarvoor was nie kon hy dalk permanente gehoorskade opgedoen het.

 

Die agterstorie

Die stukkie nonsens wat jy gelees het is meestal waar. Ons het op die Doringrivier gaan roei in die winter van 2002. Die Doring het slegs genoeg water in die winter wanneer dit reën in die Kaap en die water is so koud dat dit ‘n vereisde is dat jy met ‘n duikpak roei. Dit was ook die einde van my korporatiewe loopbaan. Na ons terugkeer van die spanbou het ek uit ‘n tuiskantoor begin werk.

Die boer het wel aan die listerpomp gewerk toe ons daar aankom, en ons kon eers die volgende more stort, maar ek twyfel of my snorkery iets daarmee uit te waai gehad het. Die twee jagters is inderdaad in die vroeë oggendure weg, om te loop jag. In een of ander bisarre insident het die hangkas in Pretoors se kamer omgeduiwel bo-oor die bed, wat hy toe wel moes repareer iewers in die nagtelike ure.

Kliek op die skakel hieronder om te sien waar die basiskamp is op google maps  Die mond

Kliek op hierdie skakel om te sien hoe ‘n Caterpilaar D11 lyk CAT D11

Laastens. ‘n Haasboud is slang vir ‘n pistool. 9mm Copper jacket rondes pas lekker in die menslike oor. ‘n Truuk wat ons geleer het by oom Peewee se army. Die SAW en seuns korporasie Bpk.

 

9mm