02 – Boererate, ouvroustories en slangolie

Kies enige geselskap en begin om die voordele van Oosterste geneeskunde, Shamaans, Thokoloshe, Sangomas, Voodoo of Boererate te besing, en hou dop hoe iemand sy of haar oë rol. Die oogrollers wil ek laat met die aanhalings: Eerstens Gödel se Incompleteness Theorem wat lui dat nie alles wat waar is kan bewys word nie. Vervolgens ‘n aanhaling uit ‘n boek van my jeug wat sê beproef alle dinge, maar behou die goeie, en laastens ‘n sêding uit die volksmond van die moddereiland. Don’t knock it untill you try it.

Daarmee volstaan ek dan met die ernstige gedeelte van hierdie griffel. Codesa gerus onder julleselwers verder, en plaas asseblief videos van enige gevolglike vuisgevegte.

As ‘n klong van ‘n sekere ouderdom, het ek my deel van blootstelling aan boererate gehad oor die jare. Sommige van die skermutselings was self toegedien, maar meeste was via die matriagde van die boere families, die ma’s en oumas.

Soos in meeste families was my ma eintlik die een wat dissipline en goeie orde in die gesin toegepas het. Daardie dissipline is gewoonlik in lettergrepe toegedien op jou agterstewe met ‘n stokey pantoffel, en Vrydae het al die kinders sommer byvoorbaat deurgeloop. Ma het geglo dat jong kinders soos worshonde is: Hulle is of oppad om te gaan nonsens aanjaag, of hulle kom nou net daarvandaan, so die Vrydag loesings was vir dit wat jy reeds aangejaag het en sy nie van weet nie, én dit wat jy nog gaan aanjaag. Pakkieslae was gewooonlik gevolg deur kasterolie, nog iets waaraan ma geglo het. Kasterolie was die eerste aksie in die verdediging teen enige potensiele kwale.

Sou die kasterolie geen uitwerking toon na drie toedienings nie, was die slagoffer duidelik werklik siek en het dit tyd geword om die groot kanonne uit te rol. Byt op ‘n naeltjie vir tandpyn, pyprook en bloekomolie saam met ‘n pluisie vir oorpyn, die allerverskriklikse konkoksies vir kopluise…en dan…die stinklap! Stinklap is ‘n familieresep wat waarlik sy naam gestand doen. Wanneer dit op die flennielap uitgegooi word het dit dieselfde kleur en viskositeit as vars teer, en die pasient moes dan so ‘n lap onder die naghempie dra beide op die rug en bors. Stinklap kan dubbele longontsteking genees in net een nag!

Vir minder ernstige kwale soos naarheid (nie veroorsaak deur swangerskap nie) was daar louwarm brandewyn. Heuning en gemmerbrandewyn vir die verligting van griepsimptome, boegoebrandewyn vir algemene vitaliteit en whiskey vir maagkrampe. Indien die maagkrampe vererge kon jy oorslaan na Chamberlains Colic Remedy. Wyn is saam met Sondagete vir almal bedien, insluitend die kinders, vir samesyn en soetwyn is voorgeskryf vir koue voete. ‘n Halfbottel soetwyn word ook voorgeskryf indien jy wil gaan kreefduik sonder ‘n wetsuit.

Prep vir skaafplekke, Zambuk salf vir kneusplekke en aambeie (as jy die verdomde blikkie kan oopkry), staaldruppels en fryers balsem indien dit bloei. As ‘n pleger van selfdoen agterplaas instandhouding is die uwe vandag nog ‘n plegtige gemeentelid van die kerk van staaldruppels. Puma balsem of Vicks onder die voetjies, op die borsie, ruggie en voorkop net voor slaaptyd wanneer jy verkoue het. Vicks, of Deepheat in jou ooghare of agter jou ore net voor opdraftyd as jy een van die vetties in die voorry was.

Aaah, rugby. In die dae toe dit nog minder van ‘n spel was en eerder ‘n EFF protesaksie verteenwoordig het, gepleeg deur ‘n klomp barbare met die allerverskriklikste byname. Ook die tuiste van sy eie skatkis boererate. Ek het reeds genoem van Deepheat en Vicks agter die ore om die opponente se haker se oë te laat water. Om gewig op te tel moes jy soggens 3 ertappels fyndruk en saam met maas eet, gevolg deur 3 rou eiers in melk ingeklits. Om gewig te verloor het jy gaan oefen met swartsakke onder jou rugbytrui. Gentian violet maak grass burns die vinnigste gesond. Die een slot met die bynaam kraan, afgely van hyskraan, het voor elke wedstryd twee hele huisies knoffel saam met ‘n halfjack whiskey en ‘n witbrood verorber. Niemand kon dit hou in die losskrums met daardie asem nie.

En dan skielik is jy groot met water op die kniee en drie kenne van die mash-en-maas wat uiteindelik begin werk het wat jy agter ‘n plaastelefoon baard probeer wegsteek. Jy hoor iewers ‘n raat vir haargroei deur ‘n mengsel van Bergamot olie, Bay rum en Placenta en jy dink by jouself, baard is ook mos hare! Agter in die medisynekas kry jy ‘n botteltjie Lennon’s Bergamot essence uit die eerste wêreld oorlog. Bay rum het jy nie, maar rum is rum, so jy gooi ‘n goeie skeut Red Heart rum in die mengsel. Haarplacenta het jy ook nie, maar eiergele is tog seker net so goed? My baard het toe nooit dikker geword nie, maar ek was ‘n baie effektiewe lokaas vir die vliëe.

Een ding wat alle boererate in gemeen gehad het, is dat dit bitterlik sleg is. Blykbaar hoe slegter die medisyne, hoe beter is dit vir jou.

Boererate; Placebo of wonderkuur? Ek weet nie, maar ek drink maar getrou my Whiskey, net ingeval daar ‘n maagaandoening in die lug is terwyl ek my oë rol vir die nuutste “wonderkuur” wat op TV aangebied word.

 

 

 

Advertisements

16 thoughts on “02 – Boererate, ouvroustories en slangolie

  1. Dankie, ek het hierdie skrywe geniet, veral die rugbystories. Nie omdat ek ‘n vreeslike rugbyfên is of self rugby gespeel het nie, maar omdat ek grootgeword het in die era van die rugbyspelers met die wrede name en ou Spiekeries wat hulle so aangemoedig het op die radio. Deesdae se rugby is maar vaal.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s