55 -‘n Eer en ‘n voorreg

Dood. Die lang slaap. Lepel in die dak steek. Langboompies toe. Die tydelike met die ewige verwissel. Sterf.

Dit is ‘n ongelooflike sensitiewe en emosionele onderwerp, en daarom belowe ek om so saggies moontlik te trap. Die doel is nie om te onstel nie, maar eerder om my gevoel te deel rondom die kwessie van die versorging van ‘n terminaal siek mens.

Dood maak my nie bang nie, ongelooflik hartseer ja, maar nie bang nie. Dood is immers maar net die laaste aksie van lewe. My geloof mag dalk bewerig wees, maar ek glo onwrikbaar dat die dag en uur van jou afsterwe bepaal is die dag toe jy verwek is. Niks wat jy doen kan dit verleng, uitstel of afstel nie. Wanneer dit met ‘n geliefde gebeur bly dit maar ‘n hartseer storie. Vir my en my Lyfieding was daar egter ook ‘n silwer randjie aan die hartseer.

Pa is eerste weg. Een oggend toe ek besig was om kruisers voor te lê op die grens het hy opgestaan en badkamer toe gegaan om sy dag te begin. Daar gekom het hy inmekaar gesak en dit was dit. Geen koebaai’s nie, geen kans om al die ongesêde dinge te sê nie.

Ma is 3 jaar later met kanker gediagnoseer.  Sy het vir 4 jaar die goeie stryd gestry voordat die onkoloog na nog ‘n ondersoek die vonnis uitgespreek het. Die siekte het sy terminale fase bereik. Geen meer chemo nie, slegs morfien wanneer dit begin nodig raak.

Ma het huis toe gegaan en begin reëlings tref. Lysies van polisse, mense wat betaal moes word, bankrekeninge. Reëlings oor my jongste broer (toe 15) se versorging, die huis en die los goedjies. Ja selfs reëlings oor die begrafnisdiens, wie die draers moes wees en watter gesange gesing moes word.

In totaal is sy nog ongeveer ses maande vir ons uitgespaar, en elke dag daarvan was vir ons ‘n eer en ‘n voorreg.

‘n Eer omdat ons die geleentheid gekry het om iemand se sterwenswens te help bewerkstelig terwyl daardie persoon nog gelewe het, en om ooggetuies te wees van soveel moed en deursettingsvermoë ten spyte van onoorkombare struikelblokke.

‘n Voorreg omdat ons die geleentheid gehad het om afskeid te neem van ‘n geliefde en om alles te sê en te doen wat onder normale omstandighede nie moontlik so wees nie.

Selfs in ‘n doodsvonnis was daar vir ons ‘n geskenk opgesluit. Dit en die daaropvolgende herhaling met Lyfie se ouma het ons genoegsaam toegerus om teen die agtergrond van my eie probleempie openlik te kan gesels oor die moontlikheid en gevolge van dood. Daarvoor is ek oneindig dankbaar.

Courage is doing what you’re afraid to do.  There can be no courage unless you’re scared. ~Edward Vernon Rickenbacker

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s