57 – Janviljoen

Die storietjie word in die familie as waarheid verkwansel. Of dit werklik so is, dié sou ek nie kon sê nie.

Oupagroot en sy getroue handlanger is een more vort om iewers op die plaas iets te loop doen. Dit was binne stapafstand want hulle het nie die bakkie of perde gevat nie. Iewers in die gewerkskaf steek daar toe ‘n skerpioen (skerpjoen) vir oupa, en hy stuur die handlanger huis toe om terpentyn by ouma te loop haal. Seker nou maar om te ontsmet mee of die gif te spoel of wat ookal. Ek het nie gevra nie.

Ewenwel. Daar is van oupagroot  gesê dat hy smorens ‘n mengsel van pis en asyn gedrink het, bloot om te verseker dat sy gemoed reg is. (Dit word altans van meeste van ons lot gesê, agter ons rugge natuurlik) So dit is met groot vaart wat die ou handlanger toe daar wegtrek plaashuis toe met die boodskap.

In die gejaag het die outa toe blykbaar half vergeet wat hy moes vra, of deurmekaar geraak of iets. Want toe hy die plaaswerf binnestorm skreeu hy toe blykbaar aan na die huis se kant toe. Mies…MIES…bring die trapmyfyn. Janviljoen het die oubaas gebyt.

1 thoughts on “57 – Janviljoen

Lewer kommentaar op Una Kanselleer antwoord