59 – Men who stare at ceilings. Lukrake observasies oor hospitale en gesondheidssorg

Om ‘n gas te word by ‘n gesondheidssorg fasiliteit is byna net so onvermydelik soos om ‘n misdaadstatistiek hier in die land van putupap en sorghumbier te word. Een of ander tyd kom jou nommer op, en as jy so ‘n fobie het vir hospitale soos die uwe kan dit nogal traumaties wees. As jy boonop nie aan ‘n mediese fonds behoort nie…wel, daaraan wil ek nie eers dink nie. Ek is een van die gelukkiges wat ‘n vet hap van my vergoeding maandeliks opdok vir die voorreg om in ‘n privaat fasiliteit behandel te word indien dit nodig sou wees, en soos nou al algemene kennis is het my nommer toe wel in 2011 opgekom.

Die ergste ding wat jou sekerlik kan oorkom in ‘n hospitaal is om NIE uit jou skedel uit vol medikasie gepomp te wees nie. So daar lê die uwe toe, plat op die naat van sy rug met pype en monitors in elke moontlike natuurlike kanaal plus ‘n paar nuwes om die oorskot goed aan te koppel. Die enigste uitsig wat ek het is die plafon bokant my en die gesig van die alomteenwoordige beskermengel-cum-verpleegsuster by die voetenend van die bed in die hoësorg saal. Behalwe vir ‘n paar catnaps slaap jy nie in ‘n hosptitaal sonder drugs nie, so vir plus minus 20 ure van die dag is jou ore die enigste kontak met die buitewêreld, en die hospitaal gordyntjies is maar dun so jy hoor baie dinge.

Jy hoor die mini-dramas en die hartseer van mense wat om jou afspeel, en jy onthou die cliché van die lewe is te kort…Skielik is daai cliché glad nie meer iets om net weg te vee met ‘n skud van die kop nie.

Jy hoor hoeveel beaurokrasie en rompslomp die mediese personeel moet navigeer net om hulle werk te doen.

Jy hoor hoe vrek ongeskik pasiente (en hulle familie) kan wees, meestal vir geen ander rede as om hulle eie paniek en vrees weg te steek nie
Ten spyte hiervan, en van taai twaalf uur skofte, is selfs die moegste gesig vriendelik as dit bokant jou bed verskyn om te verneem of jy gemaklik is, of jy pyn verduur en of daar enige iets is wat hulle vir jou kan doen. Op geen stadium in die hoësorg saal kry jy die gevoel dat daar iets met jou kan gebeur wat hierdie hoogs gekwalifiseerde en hoogs professionele personeel nie kan hanteer nie. Hierdie mense werk uiters hard onder omstandige wat gewone mense mal sal maak, en ek haal my hoed af vir hulle.
Dan word die helfte van die pype en drade aan jou lyf ontkoppel en jy word oorgeplaas na ‘n gewone saal toe. Sommer gou-gou kom jy agter dat ‘n hospitaal nie een groot entiteit is nie, maar eerder nes ‘n groot korporasie funksioneer. Daar is verskeie divisies en nie almal is ewe produktief nie.

Om mee te begin is die aanpassing tussen hoësorg en gewone saal nogal groot. Na die konstante aandag voel jy half verlore in ‘n gewone saal, want daar is natuurlik meer mense en minder verpleegpersoneel. Hier kry jy ook byvoorbeeld dat die verpleër soms tot 2 ander masjiene moet gaan haal om te probeer net om jou bloeddruk te meet want die toerusting is in ‘n gehawende toestand. Hier kry jy ook diep in die nanag ‘n verpleër wat jou drip kom ruil wat nie weet hoe om die vloei te verstel nie, dan pomp hulle 150ml per uur in jou are in in stede van 30ml/h. Dit is ongelukkig slegs hierdie stories wat dit na die media toe maak en dit is ‘n groot jammerte dat die goeie, harde en eerlike werk wat soveel goeie mense doen ongedaan gemaak word deur die skokkende onbevoegdheid van ander.

Gesondheidsorg is ‘n diep menslike roeping wat insig en menslikheid verg en waar die kernvraag is “wat kan ons doen om jou gesond te maak?”. Privaat mediese fasiliteite is ‘n besigheid waar die kernvraag is “hoeveel geld het jy/jou mediese fonds?” En die twee begrippe is nie juis vreeslik versoenbaar nie.

Dit is dus met diepe blydskap wat ek op eie stoom by die deure kon uitstap met die wete dat jy ongelukkig op een of ander stadium mediese ingryping gaan benodig, maar dat hoe langer jy jouself uit die hospitaal kan hou, hoe beter vir jou. Hospitale bly scary plekke.

En as jy ‘n staatspasient is…may the force be with you!

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s