60 – Kleinseuntjie hemel

Ek het nou skoon lag gekry vir myself toe ek die storietjie wou begin met “net nou die dag” en ek besef dat dit meer as 3 dekades of so gelede is wat ek as net nou die dag wou beskryf. Ewenwel, so 30 somers in die verlede, toe die uwe nog ‘n klein seuntjie van lyf en jare was (in die gedagtes bly alle mans mos maar klein seuntjies), was ons woonagtig in die Pretoria Moot…aan die westekant.

Dit was natuurlik lank voordat ons bewus gemaak was van die feit dat dit eintlik die kommin kant van die dorp was. Nie dat dit sou saak gemaak het nie, ons was in seuntjie hemel. Pretoria Tuine en Mountain View was waar die ryk mense gewoon het, en Waterkloof kon net sowel op ‘n ander planeet gewees het. Soos die grootmense gepraat het, het dit so geklink in elk geval. Die grootste besluit wat ons moes maak as jy in die agtermiddag jou skoolklere vir ‘n kortbroekie en T‐hemp verruil het, is watter rigting om in te slaan om die res van die dag te verwyl.

Noord, Magaliesberg se kant toe met die skatkis van die Lady Selbourne nedersettig se ruines om te verken en om te dolwe, die grotte in die berghange of die digte rietbosse waar bendehuise gebou kon word.

Suid, Daspoortrant se kant toe. Met die ou klipgroef neffens die tonnel. Die sandgate, bloudam en die skietbaan agter Makro met sy eie skatkis van patroondoppies en loodpunte in die skietwal. Onder geen omstandighede mog ons die berg oorsteek nie, want anderkant lê Danville. Daar waar die Etsebeth familie bly. Hulle was fieta’s, bad news, aldus ons ouers.

Wes, slegs ‘n blok‐en‐‘n‐half weg was die spruit. Bo tussen die huise met beton uitgevoer, maar verder ondertoe waar die huise opgehou en die bloekombos begin het, het die beton ook opgehou. Beste kleilat ammunisie in Pretoria. As jy die spruit vêr genoeg gevolg het het jy by die magtige Apiesrivier uitgekom. Maar dit kon net in skoolvakansies gebeur as jy al vroeg in die pad (spruit) kon val. As jy verby die spruit verder wes gegaan het was jy op Andeon se plotte. Dikwiel fiets kontrei.

Oos, die meer direkte roete Apiesrivier toe, en groendam toe. Veel nader was die munisipale swembad (voor ons ons eie een gekry het), Gobin se winkel waar ons nickerballs en chappies gekoop het en die industriële gebied. Oos was ook waar ‘n ander maatjie gebly het wat ‘n Atari speletjiemasjien gehad het…

Labor konstruksie het gekom en ‘n snelweg reg langs ons spruitjie gebou en in die proses die hele spruit met beton uitgevoer. Lady Selbourne het Suiderberg geword en is namate toegebou. Die bloekombos is uitgekap en elke oop stukkie veld is toegepak onder lae inkomste behuising. Gobin is lankal dood en die munisipale swembad lankal toe. Maar dit was seuntjie hemel voor al hierdie dinge gebeur het.

Ek wonder waar is seuntjiehemel deesdae? Agter die X‐box, of voor die TV dalk? Speel seuntjies ooit nog?

Advertisements

One thought on “60 – Kleinseuntjie hemel

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s