63 – Die duiwel is in die fynskrif.

Vrouens hou van mans wat swaar goed kan rondskuif en dinge kan regmaak.

Daardie stukkie goedbedoelde diplomasie om nie ‘n lelike ou te laat sleg voel nie kon netsowel ‘n antieke Arabiese vloek gewees het vir die hoeveelheid pyn, lyding en tyd in die dogbox wat dit al veroorsaak het. As die liewe Storieklong darem kon onthou wie die varknek was wat dit gesê het, het ek op sy (of haar) rug loop spring, hom(haar) aan die ore gegryp en bloots gery soos ‘n Harley Davidson, verby oom Daantjie in die kalwerhok tot by die nutsman in die hardewarewinkel.

Bedaar tog! Gedagtes so rein soos joune hoort nie daar waar ek hulle nou gevang ronddwaal het nie. As hulle dan daar moet wees, trek tog net vir hulle gumboots aan.

Sien nou het julle met julle vuil gedagtes vir my skoon van my storie af. . . O ja, ry tot by nutsman in die hardewarewinkel . . .

Kyk, ek geniet die doen-dit-self speletjie as dinge reg loop, maar slegs een uit elke vyf projekte loop perfek volgens plan. Met dit in gedagte, en ingevolge die voorwaardes en beginsels van die verbruikerswet, bied ek graag die fynskrif aan (ek het die letsels om dit te staaf) vir gebruik in ‘n moontlike standaard kontrak vir enige kêrel of meise wat braaf genoeg is om hulself in die speletjie te wil begewe.

  1. Dit mag nou wel Murphy se tweede wet wees, maar dit is die eerste wet van doen-dit-self. As dit kan verkeerd loop, sal dit. Beplanning moet dienooreenkomstig gedoen word.
  2. Net gou-gou se gat. Daar bestaan nie so iets nie. Dit maak nie saak of die joppie jou laasweek net 10 minute gevat het nie. Die oomblik as jy die woorde net gou-gou of easy peasy uiter tree reël nommer een in werking – met rente en boetes
  3. R.T.F.M. Read the F***ing Manual. Dit maak nie saak hoe goed jy dink jy is nie, of swak jy beweer die handleiding se Engels is nie, versuim om die instruksies te lees gaan jou kos.
  4. Kan jy my kom raad gee het presies dieselfde betekenis as kan jy my kom wys. Pak jou werksklere in of jy is gewaarborg om op te eindig met olie of verfkolle op jou nuwe hemp, of jou broek is vol gate gebrand deur die vonke uit die hoekslyper. Al jou werksklere was eens nuwe klere wat jy aangehad het toe jy net gou-gou ‘n pêl gaan raadgee het.
  5. Ja kan al die gereedskap in die wêreld besit, die stuk wat jy nodig het sal altyd elders wees. Of by die huis vergeet of net buite bereik van jou uitgestrekte vingerpunte. Beplan daarvoor.
  6. Die mens is fisiologies nie gemaak om te kan doen-dit self nie, hy het gewoon nie genoeg ledemate met opponerende duime nie. Kry ‘n helper. Op daardie manier het jy genoeg hande om vas te hou en iemand om te blameer indien . . . jammer WANNEER, dinge skeefloop.
  7. Van ledemate en vingers gepraat. Koop pleisters, baie pleisters! Fryers balsem, Ysterdruppels, Dettol en pynpille. Maak seker jou mediesefonds is op datum en dat jy weet waar is die naaste plek om steke te kry.

So, as jy na dese steeds vasberade is om dit self te doen eerder as om ‘n nader sucker die paar rand te betaal om dit te kom doen. Sterkte. . .en respek!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s