64 – Hoe om mans te kry om in die huis te help

Storieklong en sy Liefie is dit oor een ding eens, en dit is dat hulle nie juis opgewonde is oor huiswerk nie. Omdat hulle ook nie een van daardie engeltjies het wat bedags die huis kom omtower en skitterblink agterlaat nie, beteken dit dat hulle van tyd tot tyd noodgedwonge maar moet inspring en bietjie huishoudkunde pleeg, veral as die dustbunnies die huisbewoners in die gang begin pootjie.

Die meer skerpsinniges sou opmerk dat die verteller heel onverantwoordelik omgaan met die meervoud om die deelnemers aan die skoonmaakproses te beskryf. Dit is inderdaad so, en boonop met voorbedagte rade. Sien, as hedendaagse man (of redelike faksimilee daarvan), word dit soortvan verwag dat domestic vaardighede deel uitmaak van die totale pakket. Die slim man sal hierdie uitdaging omarm en sy deel van die huishoudelike take sonder klagte afhandel sodra hy gevra word,  en in die proses sy lewensmaat bly maak. Die werklik wyse man sal huishoudelike take uit sy eie aanpak sonder om gevra te word, en sy lewensmaat sal hom ryklik beloon

Tog is daar skynbaar steeds ernstige teenkanting binne die geledere van die manlike spesie teen deelname aan huishoudelike takies, en terwyl die verteller nou onlangs die mop op ‘n toer van die huis geneem het het dit by hom opgekom waarom. Om mop of besems te bestuur of skottelgoed te was gee ‘n mens nogal dinktyd.

Dit is eintlik heel eenvoudig: die skoonmaakbedryf het nog nie sodanig transformeer om dit toeganklik te maak vir die gemiddelde man nie. Gegewe die brose natuur van die gemiddelde man se ego, en die nodigheid om nie in situasies te beland waar hy statuur onder sy eweknieë kan verloor nie, bied huisskoonmaak nie juis veel beskerming  teen blootstelling aan hierdie verskriklike sondes teen die manlike psige nie.

Dit is die gevoel van hierdie eenman komissie van ondersoek dat mans veel makliker aan huishoudelike take sal deelneem indien die vervaardigers van skoonmaakprodukte en toerusting reekse ontwerp wat spreek tot die man. Voorstelle in hierdie verband sluit in, maar is nie beperk tot, die volgende:

* Meer kraggereedskap. Die gebruik van kraggereedskap, verkieslik met hoë wringkrag, verrig dieselfde funksie vandag as wat die suksesvolle vangs van ‘n wilde dier in die oertyd gedoen het. As bonus kan mans ook rondom die braaivleisvuur spog oor wie se toerusting die vinnigste,  mees kragtigste is, of grootste kapasiteit het.

* Funksies. Mans hou van gadgets en funksies. As dit boonop met afstandbeheer toerus kan word, bonus! Bied soveel moontlik opsionele ekstras.

* Produkname. Geen selfrespekterende moderne grotman wil matte suig met poefter masjien soos ‘n Electrolux, ‘n Rainbow of Kirby nie. Dit is net eenvoudig nie macho genoeg nie. Gee dit ‘n oordentlike naam soos Dirtbuster 5000 SLX. En asseblief geen wit toerusting nie, verf die masjien rooi (rooi goed is altyd vinnig) of geel (soos in Caterpillar), of groen (John Deere). Sit sommer badges ook op na smaak. Landrover, Land Cruiser, John Deere en so…

* Daardie geblomde voorskootjies wat mens by die kettingwinkels koop. Oooh ê ê. Maak vir die mans uitrustings in ‘n neutrale kleur soos khaki, of beter nog – in kamofleer patroon. Onthou om ektra lang bandjies in te sit, van velcro en nie die sissie strikkies nie, en baie sakke en hangplekke vir die opsionele ekstras.

* Mr Muscle moet gaan! Mans. Dra. Nie. Tights. Nie! Sit eerder prentjies van mooi meisies met min klere op skoonmaakprodukte en gee dit name soos stuitige Sannie en Wulpse Wilna (seksisties ek weet, maar man is nou maar eenmaal man). Vrouens wat die ekstra myl wil gaan kan prentjies van hulleself op die produkte sit sodat hulle mans hulle die heeldag kan bewonder.

* Hou telling. Kompetisie bepaal die rangorde onder mans. Daar moet rekord gehou word van hoe vinnig elke taak verrig kan word sodat mans onder mekaar kan spog. Presteerdeers moet vereer word met pryse.

Advertisements

One thought on “64 – Hoe om mans te kry om in die huis te help

  1. Dit klink na uitstekende voorstelle wat jy het. Intussen kan jy dalk solank ‘n selfloperstofsuier oorweeg. Dit werk amper net so goed soos ‘n selflopertrekker of selfloperstroper

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s