65 – Die legende van Fanbelt van Tonder

Frederik “Fanbelt” van Tonder loer skalks na sy silhoeët in die spieël agter die klerekas se deur.  Die manier hoe die gladde groen materiaal die kontoere van sy lyf perfek volg tot by die embleem op sy bors, ‘n bors wat na sy mening ten minste ‘n duim groter geword het sedert hy die trui aangetrek het.

Frederik was lanklaas so trots.

Sy oë word glasig soos die onthou hom oorrompel, in sy gedagtes is hy terug by die plek waar sy rugbyloopbaan se nederige wortels lê.

Dit is Vrydagmiddag en op kampus is die manne naarstigtelik besig om spanne te finaliseer vir vannaand se wedstryde. Waar is daai lang drel, die een wat lyk soos ‘n fanbelt wat nie styf genoeg gestel is nie? Hy is mos ook ‘n heelagter? Dit is die kêppie van Daggawalm manskoshuis se kaas-en-wyn span wat so praat. Eintlik is hulle nader aan ‘n bier-en-rooiworsie span, maar ‘n mens laat mos nou nie kultuur (of gebrek daaraan!) in die pad van ‘n goeie storie kom nie. ‘n Mens laat ook nie die kans vir jou debuutwedstryd in die big leagues deur jou vingers glip nie, veral nie as jy die derde keuse heelagter vir die vierde rugbyspan van ‘n universiteitskoshuis is nie. In ‘n byna ongelooflike stukkie goeie geluk is die eerste keuse heelagter bevorder na die derde span toe en die twee keuse is deur sy pa ontbied om eerder maar te kom help met die boerdery. Nie dat ‘n mens die oom kon kwalik neem nie, as jy na drie jaar se voltydse studie nog nie jou eerstejaar kon deurkom nie, dan sal jy seker ook nie.

Soos dit maar gaan met die dinge het die naam Fanbelt het toe ook sommer dadelik vatplek gekry, en twee ure later draf Fanbelt van Tonder op heelagter op vir huis Daggawalm se wedstryd teen huis Jockstrap. Nou die manne van Jockstrap was ‘n spul oorpresteerders en het die hele konsep van sosiale rugby totaal misverstaan. Vir hulle was die wedstryd nie net bloot ‘n formaliteit om af te handel sodat die drinkery kan begin nie, en derhalwe het hulle ook nog nooit met minder as 100 punte teen Daggawalm gewen nie…dis nou tot die toetrede van ‘n ene Fanbelt van Tonder.

Drie minute in die wedstryd kry Fanbelt die bal in sy kwartgebied en mik ‘n skop kantlyn toe maar die bal skil lelik van sy voet af en woer-woer middelveld langs waar hy dit weer heeltemal per ongeluk in die hande kry in sy opvolg aksie. Hy het gemik om links verby die bal te hardloop toe dit skielik sywaarts spring en in sy hande beland.  Reeds heeltemal poot-uit van sy draffie van die kwartlyn af besluit Fanbelt om reguit op sy opponent heelagter af te hardloop sodat die ou hom kan tekkel en hy so bietjie kan lê en rus. Soos dit toe uitdraai is die tekkel windskeef en Fanbelt word geforseer om tot by hulle pale te draf vir ‘n drie. Die skop was mis. Daggawalm vyf. Jockstrap nul. Onder die pale probeer hulle heelagter erg benoud verduidelik. Sorrie boys, daai ou se bene is so krom as hy reguit hardloop lyk dit of hy sidestep!

Na die aanvanklike verrassing verloop die res van die wedstryd meer volgens die tradisionele resep. Jockstrap ryg die punte in en met 2 minute oor is hulle voor 100 –  5 en sterk op die aanval op soek na ‘n laaste drie om hulle trotse rekord van 30 jaar te behou van nooit met minder as 100 punte gewen nie. Na ‘n volle agterlynbeweging sit die regtervleuel af doellyn toe met net Fanbelt wat oorkom op dekverdediging.  Dat Fanbelt geen behoefte gehad het om die jong grizzly te probeer raakduik nie kon dié beenkop seker nie geraai het nie, Fanbelt het bloot net gedoen wat nodig is om dit te laat lyk soos ‘n poging tot ‘n tekkel maar toe die ou Fanbelt se skaduwee sien skrik hy en swenk binneveld toe waar hy toe bo-oor Fanbelt val en in die proses aanslaan. Dis toe ook waar die wedstryd eindig.

Fanbelt word by die suipery onthaal in sy afwesigheid as man van die wedstryd aangewys – hy het eers twee dae later in die hospitaal wakker geword met harsingskudding. Die storie van die dag toe Daggawalm met net 95 punte teen Jockstrap verloor het én boonop self ‘n drie gedruk het word vandag nog in die koshuisgange vertel.

Fredeliefderik! Hou nou op om jou maag in te trek en vir jouself in die spieël te staar, ons moet ry. Mamma is nie een om tweemaal te praat nie, so Frederik maak haastig sy sleutels en ander los goed bymekaar en mik vir die deur. Die klein glimlaggie bly egter in sy mondhoek, want dit maak nie saak wat mamma sê of dink nie: Bok Vrydae is die heel beste ding sedert…wel sedert huis Daggawalm.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s