Steeds geskroef, maar met humor

What’s on my mind? Eintlik nogal baie, dankie dat jy vra Bakkiesboek.

By die huis gaan dit goed. Ek het ‘n behoorlike duik gemaak in mamma se lysie van agterstallige huistakies en die plekkie lyk sommer spiekeries. Dis nou nog net daai merske sesvoet gat wat sy my in die agterplaas laat grawe het wat iets in geplant moet kry, dan is die tuinwerk ook afgehandel. Pynappelbier maak ook nie vir mamma naastenby so aggressief soos Klipdrift nie.

Die makro sosio-ekonomiese klimaat stem my tot kommer, nie omdat ek enigsins ‘n idee het wat dit is nie (maar dit klink erg belangrik), maar omdat my angsversteuring post traumatiese skok opgedoen het en dit laat my komkommer selfs wanneer daar niks is om bekommerd oor te wees nie. In ‘n wêreld wat tans verdeeld is tussen nou is die eindtye en alles is ‘n komplot deur pienkes en die brein of die boksombende vir dominansie, is ek die outjie in die middel vasgebind op die treinspoor wat orals gelyk probeer kyk sodat ek darem net die trein se nommer kan vat wat my gaan platry.

Oorkant die groot soutdam is die ou met die slegte combover en die ou met die veterogies in ‘n ernstige handelsoorlog gewikkel. Ek kies nie kante nie, maar wanneer die groot honde kyk wie sy been die hoogste kan lig, raak die klein hondjies feitlik altyd nat. Boonop is daar na bewering ook die een of ander pandemie wat rondsluip op soek na oumense, rokers en vet mense om te bespring. As die gesnak na asem van die uwe wat probeer fisiese arbeid pleeg agter daai lapdingetjie oor my input ports enige indikasie is van wat die virussie kan doen, dan is dit nogal ernstig. Wanneer my tyd kom om bespring te raak sal ek maar my mond en keel met seep uitwas, Dove of baba sjampoo of iets met gebalanseerde pH vir sensitiewe vel. Die virus hou glad nie van seep en water nie

Nader ter plaatse het ons goewerment genadiglik besluit om die groot honde alleen te los, maar hulle eie veglustigheid laat hulle toe sommer oorlog verklaar teen hulle eie mense. Ek het lank getob oor hoe ek daaroor voel maar toe besluit dat oom Cyril en die kat onder die hoed eenvoudig net nie genoeg manne het om dit ‘n fair fight te maak nie, so ek sal hulle nie pla nie.

Die rookverbod was egter ‘n baie lae hou, en nie omdat ek ‘n roker is nie. Daardie verslawing het ek reeds 14 jaar gelede ingeruil vir ‘n cholesterol, suiker en koolhidraat verslawing wat 3 van my dokters slapelose nagte gee. Ek het willens en wetens ‘n van Helsdingen loop trou. ‘n Kalm van Helsdingen is reeds ‘n handvol, maar een wat nie kan rook nie is ‘n problematiese toedrag van sake. Sigarette van enige herhenbare handelsmerk het nou so onbekombaar (lees is jy fokken mal duur) geraak dat selfs my Ford bakkie opgehou rook het. Nou deel ek ‘n leefspasie met einste van Helsdingen met ‘n oggendhoesie soos ‘n Gunston roker oor die donkiedrol en kakiebos konkoksies wat sy geforseer is om te rook en ‘n ongebruikte gat in die agterplaas. Besef niemand dat dit ‘n baie meer teenswoordige bedreiging van my welsyn is as ‘n virus nie?

So wat is on my mind Bakkiesboek? Mens het nie oge in sy agterkop soos ‘n vrou nie, so mens het hopeloos te min oë om alles te probeer dophou wat dreig om mens plat te ry. En dit gee mens se anxiety PTSD.

Hoe sê jy nou Vleisbroek? Jy was net beleefd? Jy wou nie regtig weet wat op my mind is nie? Wel fyn dan! Loop trap op n lego, saam met die goewerment, die denialists, die conspiracy theorists en die healty lifestyle smouse.

5 thoughts on “Steeds geskroef, maar met humor

  1. My grootste probleem is dat ek in een dag van depressief na uitbundig happy, van denialist na conspiracy theorist, van kind wat alles glo tot opstandige grootmens spring. En dit nog voor ek my 2de koppie koffie gaan maak het

    • Ons het ‘n support groepie vir overthikers anoniem. Daar is comfort food en wyn. Die probleem is dat ons nie al die groeplede op dieselfde emosie op dieselfde tyd kan kry nie, so teen die tweede share los ons eerder alles en vreet pizza en koek om te verhoed dat daar messtekery uitbreek

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s