Gereedskap en hulle misbruike: ‘n Wetenskaplike studie – Deel een

Ek is ‘n mannetjie wat baie meer gereeld bloei as wat aanbeveel word vir iemand wat so klein is en so maklik seerkry. Sommige beserings kan toegeskryf word aan die ongelukkige kombinasie van ‘n kwaai vrou en ‘n los bek, maar sy is regtig lief vir my en doen groot moeite om my nie heel dood te slaan nie. My gereedskap is glad nie opgesaal met sulke hoë morele standaarde nie, en probeer gereeld om my langboompies toe te stuur, of ten minste dan te vermink. Die uitbreek van die pes, die feit dat die uwe werk skaars geraak het, en die intrek van die kwaai vrou in die tuiskantoor het die perfekte storm geskep om my in die leeukuil van my werkskamer in te lok, reguit in die arms van die reeksverminkers.

Pligsgetroue landsburger en volger van die wet wat ek is, het ek besluit om ‘n omvattende HSE program in plek te stel. Heel eerste op die lys is dat daar nou ten alle tye glimbaadjies in die werkswinkel gedra sal word om dit makliker te maak vir die paramedics om my op te spoor vir behandeling. Tweedens het ek ‘n omvattende risiko assesering studie op al die gereedskap gedoen sodat elkeen die toepaslike veiligheidswaarskuwings kan kry om geignoreer te word. Ek kan nou die uitkoms van hierdie studie deel met my mede breek dit self plegers en ander nuuskieriges.

Gereedskap kan losweg in twee katagorië verdeel word: Handgereedskap en kraggereedskap. Beserings as gevolg van handgereedskap kan gewoonlik tuis behandel word met staaldruppels en pleisters, terwyl onderonsies met kraggereedskap gewoonlik in die hospitaal eindig.

Die handgereedskap het ek in 6 hopies uitgepak. Moersleutels (spanners); Tange; Skroewedraaiers en beitels; Hamers; Meettoerusting; en Snytoerusting. ‘n Moersleutel word gebruik om die vel op jou kneukels te verwyder deur die een kant oor ‘n bout of moer te plaas en aan die ander ent te druk of trek totdat dit gly en jou hand gevolglik teen die naaste stuk skerp metaal van sy velle ontneem. Sommige moersleutels is in Newton meter afgemerk sodat jy presies weet hoe hard jou hande met die skerp metaal kontak gemaak het. Die belangrikste moersleutels is 10, 13 en 17mm. Met hierdie drie sleutels kan jy ‘n hele Ford uitmekaarmaak en weer aanmekaarsit, indien jy hulle kan kry. Dit is alombekend dat jy nooit ‘n 13 spanner kan kry wanneer jy een nodig het nie, daarom die tang. ‘n Tang se primêre funksie is om boute en moere se koppe rond genoeg te maak dat geen moersleutel meer daarop kan werk nie. Dit is ook baie handig om bloedblase op vingerpunte te veroorsaak. Spesiale vermelding moet hier gemaak word aan die vicegrip, baie handig om al die hitte van die stuk wat jy pas gesweis het na jou handpalm te gelei.

Beitels en skroewedraaiers se elegante lang en dun ontwerp met skerp punte maak dit uitstekend om gate in goed te druk. Handpalms is veral geneig om aan die ontvangkant van hierdie gate te wees en om ‘n hamer te gebruik om die skroewedraaier mee te slaan verseker dat jy maksimum skade kan aanrig. Soos met eetgerei en borde, het jy altyd ‘n goeie stel beitels en skroewedraaiers in die kas terwyl jy met die goedkoop halfslyt stel aansukkel. Van eetgerei gepraat, die kombuismes is steeds die gekose instrument om enige skroef mee los te draai.

Die hamer verdien ‘n referaat op sy eie. Oorspronklik gebruik vir oorlog is dit die enigste gereedskap toegewei aan breek eerder as regmaak. Algemene konsensus is dat indien jy nie regkom met die hamer wat jy gebruik nie, gaan haal ‘n groter hamer! Hamers met kort stele word tipies gebruik om die vingernaels mee blou te slaan, die duim is ‘n gunsteling, terwyl swaarder hamers met langer stele ideaal is om maermerries mee by te kom. Meettoerusting in die algemeen verskaf eenvoudig nie die bloed en derms beserings wat die kykers verwag nie, so nie baie tyd is hieraan gewy nie. Staal maatbande dien slegs papercuts toe terwyl die veer die maatband laat terugrol in sy dop in. Potlode steek jou soms in die foefenjors as jy gaan sit met die potlood in jou agtersak. Laastens snytoerusting. Hierdie tipe gereedskap skakel aandrywing deur die mens verskaf om in totaal lukrake beweging wat glad nie ooreenstem met die merk of lyn wat op die materiaal getrek is nie. Hoewel beserings algemeen is, is dit selde ernstig genoeg vir ‘n hospitaalbesoek.

Enige van bogenoemde kan kan ook gebruik word as ‘n joumoer tool. Dit is ‘n stuk gereedskap wat geslinger word wanneer jou frustrasievlakke kookpunt bereik terwyl jy op top volume bulder “Jou moer man!” Neem kennis dat daar ‘n sterk moontlikheid is dat die joumoer tool daardie breekbare item sal tref wat jy in die verste hoek van die werkskamer neergesit het om dit teen skade te beskerm. Daar is ook ‘n wesenlike waarskynlikheid dat dit die volgende stuk gereedskap gaan wees wat jy nodig kry.

One thought on “Gereedskap en hulle misbruike: ‘n Wetenskaplike studie – Deel een

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s