Gereedskap en hulle misbruike: ‘n (On)Wetenskaplike studie – Deel twee.

Vrywaring. Hierdie liegstorie bevat verwysings na regte mense wat regte breinfloutes met kraggereedsak ervaar het. Niemand is dood of het ledemate verloor nie, maar groot hoeveelhede staaldruppels en fryers balsem is gebruik. Al die stories is aangedik vir effek. Do not try this at home, doen dit liewer by jou buurman of jou pêlle.

Hoe ken jy ‘n skrynwerker tussen ‘n klomp mense uit? Hy is die ou met die potlood agter sy oor en ja, ek weet wat jy gedink het. Dit is alles grappies en speletjies tot iemand ‘n vinger verloor, en die rede waarom skrynwerkers en blokmanne telkens minder vingers oor het as waarmee hulle ge-issue is, is kraggereedskap. Kraggereedskap word tipies gebruik om baie vinnig bruikbare materiaal te reduseer tot skroot en saagsels en as ekstra bonus kan jou los met interresante letsels en ‘n storie om te vertel. 

Kraggereedskap is verkrygbaar is rofweg 4 variante. Battery, elektries, lug, en brandstof. Vir die doel van hierdie liegstorie moet ek battery aangedrewe gereedskap uitlaat. Dit is ‘n briljante idee en ongelooflik handig, maar ook heeltemal useless op die tyd wanneer jy dit wil gebruik omdat die outjie (lees yours truly) wat laaste daarmee gewerk het vergeet het om die batterye op die laaier te sit.

In die elektriese afdeling wil ek ter wille van humor fokus op die kleiner 220v enkelfase masjiene. Een van die hoof redes waarom ek steeds kan swak grappies maak oor my kontakte met gereedskap, en slegs letsels het om te wys, is omdat ‘n breinfloute met ‘n industriële masjien jou sal vermink of doodmaak. Die Darwin toekennings deel met daardie afdeling.

Die staanboor. Myne is so lang regop masjien, maar jy kry ook korter weergawes wat op ‘n tafel staan. Daai goed is sterker as wat jy dink jy is en sal die stuk staal waardeur jy probeer boor uit jou hande gryp, dit teen verblindende spoed in die rondte draai, jou hemp verwoes en ‘n bloedstreep oor jou pens trek. Langs die staanboor is die tafelsaag. Hierdie stuk gereedskap is die primêre rede waarom skrynwerkers soms minder as die voorgeskrewe hoeveelheid litte aan hulle vingers het. Dit is ook uiters handing om stukke hout in projektiele te verander. Gewoonlik word die operateur slegs een of twee keer deur een van hierdie projektiele getref voor hy se les leer en buite die lanseer trajek staan. So ‘n projektiel teen die bors in pynlik, but jou can normally walk it off. Op die brug van jou neus vereis gewoonlik ‘n trip na die local ongevalle en die swelsel sak eers na 2 of 3 dae genoeg dat jy weer kan sien.

Beide staanboor en tafelsaag het kleiner boeties. Staanboor se kleinboet kan ‘n gat boor regdeur die stuk materiaal wat jy net effens wou versink, jou hemp opdraai en jou lelike puncture in jou pens gee. Jy het die materiaal teen jou pens vasgedruk omdat jy nog steeds die verband om jou hand het van laasweek toe die versink truuk ook gebackfire het en jy regdeur jou hand geboor het. Rolsaag, die draagbare kleinboet van tafelsaag kan duur eikehout met groot akuraatheid te kort sny.

Langs rolsaag in die kas is nog ‘n paar stukkies gereedskap met spesiale vaardighede. Die bandskuurder verwyder al die vel op jou kneukels en vingerpunte blitsvinnig. Dit word ook gebruik om die eikehout wat jy kon herwin na jy dit met die rolsaag te kort gesny het, heeltemal te ruineer. Die router kan pragtige kontoere sny om die nuwe stuk eikehout wat jy pas gaan koop het pragtig af te rond, as jy die kontoer aan die regte kant van die hout gesny het. Op hierdie punt pak jy maar die gereedskap weg. Jy is uit hout uit en die houtwinkel is al toe. Miskien kan mamma jou kneukels mooi skoonmaak en verbind.

Moreoggend besluit jy om houtwerk eers ‘n wyle te laat rus en eerder bietjie met staal te werk. Dit is mos iets wat jy nie kan breek nie, reg? Die hoekslyper is so handig om met staal te werk omdat daar so groot reeks opsies van skuur en snywiele is wat jy daaraan kan vasbout om effektief warm staalsplinters in jou oë te slinger. Met ‘n draadborsel (wire wheel) kan jy die velle van jou goeie hand se kneukels ook afstroop en selfs vinniger as die tafelsaag kleiner projektiele soos boute en moere dwarsoor die werkswinkel lanseer. Hierdie projektiele sal met laser akuraatheid die mees waardevolle item in die omgewing soek om teen tot stilstand te kom. So waardevol dat jy wens die ding het eerder teen jou gesig loop doodruk. Tans wag jy vir die verekering om al jou gereedskap te vervang nadat jy per ongeluk die werkswinkel aan die brand gesteek het met die oksie-asetileen snyer.

Terwyl die versekeraar se mense in die as van jou werkswinkel rondkrap kan jy solank jou tuin begin regkry vir lente. Kantsnyers, kettingsae en leaf blowers is net pret as jy dit gebruik. Wanneer jou bure dit gebruik irriteer dit die wit waks uit jou uit. En daar is daardie letsel bokant jou linkerknie om jou te herhinder dat ‘n kettingsaag nie jou speelmaat is nie.

Spesiale melding. Die nederige werkshemp. Dit is ‘n hemp wat netnou nog een van jou bestes was, voor jy “net gou-gou” iets in die werkswinkel gaan doen het. Die werkshemp is die mees onskadelike item in jou gereedskapskas, maar die een wat daai hemp vir jou gekoop het is ‘n ander storie.

One thought on “Gereedskap en hulle misbruike: ‘n (On)Wetenskaplike studie – Deel twee.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s