Gereedskap en hulle misbruike: ‘n (On)Wetenskaplike studie – Deel twee.

Vrywaring. Hierdie liegstorie bevat verwysings na regte mense wat regte breinfloutes met kraggereedsak ervaar het. Niemand is dood of het ledemate verloor nie, maar groot hoeveelhede staaldruppels en fryers balsem is gebruik. Al die stories is aangedik vir effek. Do not try this at home, doen dit liewer by jou buurman of jou pêlle.

Hoe ken jy ‘n skrynwerker tussen ‘n klomp mense uit? Hy is die ou met die potlood agter sy oor en ja, ek weet wat jy gedink het. Dit is alles grappies en speletjies tot iemand ‘n vinger verloor, en die rede waarom skrynwerkers en blokmanne telkens minder vingers oor het as waarmee hulle ge-issue is, is kraggereedskap. Kraggereedskap word tipies gebruik om baie vinnig bruikbare materiaal te reduseer tot skroot en saagsels en as ekstra bonus kan jou los met interresante letsels en ‘n storie om te vertel. 

Kraggereedskap is verkrygbaar is rofweg 4 variante. Battery, elektries, lug, en brandstof. Vir die doel van hierdie liegstorie moet ek battery aangedrewe gereedskap uitlaat. Dit is ‘n briljante idee en ongelooflik handig, maar ook heeltemal useless op die tyd wanneer jy dit wil gebruik omdat die outjie (lees yours truly) wat laaste daarmee gewerk het vergeet het om die batterye op die laaier te sit.

In die elektriese afdeling wil ek ter wille van humor fokus op die kleiner 220v enkelfase masjiene. Een van die hoof redes waarom ek steeds kan swak grappies maak oor my kontakte met gereedskap, en slegs letsels het om te wys, is omdat ‘n breinfloute met ‘n industriële masjien jou sal vermink of doodmaak. Die Darwin toekennings deel met daardie afdeling.

Die staanboor. Myne is so lang regop masjien, maar jy kry ook korter weergawes wat op ‘n tafel staan. Daai goed is sterker as wat jy dink jy is en sal die stuk staal waardeur jy probeer boor uit jou hande gryp, dit teen verblindende spoed in die rondte draai, jou hemp verwoes en ‘n bloedstreep oor jou pens trek. Langs die staanboor is die tafelsaag. Hierdie stuk gereedskap is die primêre rede waarom skrynwerkers soms minder as die voorgeskrewe hoeveelheid litte aan hulle vingers het. Dit is ook uiters handing om stukke hout in projektiele te verander. Gewoonlik word die operateur slegs een of twee keer deur een van hierdie projektiele getref voor hy se les leer en buite die lanseer trajek staan. So ‘n projektiel teen die bors in pynlik, but jou can normally walk it off. Op die brug van jou neus vereis gewoonlik ‘n trip na die local ongevalle en die swelsel sak eers na 2 of 3 dae genoeg dat jy weer kan sien.

Beide staanboor en tafelsaag het kleiner boeties. Staanboor se kleinboet kan ‘n gat boor regdeur die stuk materiaal wat jy net effens wou versink, jou hemp opdraai en jou lelike puncture in jou pens gee. Jy het die materiaal teen jou pens vasgedruk omdat jy nog steeds die verband om jou hand het van laasweek toe die versink truuk ook gebackfire het en jy regdeur jou hand geboor het. Rolsaag, die draagbare kleinboet van tafelsaag kan duur eikehout met groot akuraatheid te kort sny.

Langs rolsaag in die kas is nog ‘n paar stukkies gereedskap met spesiale vaardighede. Die bandskuurder verwyder al die vel op jou kneukels en vingerpunte blitsvinnig. Dit word ook gebruik om die eikehout wat jy kon herwin na jy dit met die rolsaag te kort gesny het, heeltemal te ruineer. Die router kan pragtige kontoere sny om die nuwe stuk eikehout wat jy pas gaan koop het pragtig af te rond, as jy die kontoer aan die regte kant van die hout gesny het. Op hierdie punt pak jy maar die gereedskap weg. Jy is uit hout uit en die houtwinkel is al toe. Miskien kan mamma jou kneukels mooi skoonmaak en verbind.

Moreoggend besluit jy om houtwerk eers ‘n wyle te laat rus en eerder bietjie met staal te werk. Dit is mos iets wat jy nie kan breek nie, reg? Die hoekslyper is so handig om met staal te werk omdat daar so groot reeks opsies van skuur en snywiele is wat jy daaraan kan vasbout om effektief warm staalsplinters in jou oë te slinger. Met ‘n draadborsel (wire wheel) kan jy die velle van jou goeie hand se kneukels ook afstroop en selfs vinniger as die tafelsaag kleiner projektiele soos boute en moere dwarsoor die werkswinkel lanseer. Hierdie projektiele sal met laser akuraatheid die mees waardevolle item in die omgewing soek om teen tot stilstand te kom. So waardevol dat jy wens die ding het eerder teen jou gesig loop doodruk. Tans wag jy vir die verekering om al jou gereedskap te vervang nadat jy per ongeluk die werkswinkel aan die brand gesteek het met die oksie-asetileen snyer.

Terwyl die versekeraar se mense in die as van jou werkswinkel rondkrap kan jy solank jou tuin begin regkry vir lente. Kantsnyers, kettingsae en leaf blowers is net pret as jy dit gebruik. Wanneer jou bure dit gebruik irriteer dit die wit waks uit jou uit. En daar is daardie letsel bokant jou linkerknie om jou te herhinder dat ‘n kettingsaag nie jou speelmaat is nie.

Spesiale melding. Die nederige werkshemp. Dit is ‘n hemp wat netnou nog een van jou bestes was, voor jy “net gou-gou” iets in die werkswinkel gaan doen het. Die werkshemp is die mees onskadelike item in jou gereedskapskas, maar die een wat daai hemp vir jou gekoop het is ‘n ander storie.

Gereedskap en hulle misbruike: ‘n Wetenskaplike studie – Deel een

Ek is ‘n mannetjie wat baie meer gereeld bloei as wat aanbeveel word vir iemand wat so klein is en so maklik seerkry. Sommige beserings kan toegeskryf word aan die ongelukkige kombinasie van ‘n kwaai vrou en ‘n los bek, maar sy is regtig lief vir my en doen groot moeite om my nie heel dood te slaan nie. My gereedskap is glad nie opgesaal met sulke hoë morele standaarde nie, en probeer gereeld om my langboompies toe te stuur, of ten minste dan te vermink. Die uitbreek van die pes, die feit dat die uwe werk skaars geraak het, en die intrek van die kwaai vrou in die tuiskantoor het die perfekte storm geskep om my in die leeukuil van my werkskamer in te lok, reguit in die arms van die reeksverminkers.

Pligsgetroue landsburger en volger van die wet wat ek is, het ek besluit om ‘n omvattende HSE program in plek te stel. Heel eerste op die lys is dat daar nou ten alle tye glimbaadjies in die werkswinkel gedra sal word om dit makliker te maak vir die paramedics om my op te spoor vir behandeling. Tweedens het ek ‘n omvattende risiko assesering studie op al die gereedskap gedoen sodat elkeen die toepaslike veiligheidswaarskuwings kan kry om geignoreer te word. Ek kan nou die uitkoms van hierdie studie deel met my mede breek dit self plegers en ander nuuskieriges.

Gereedskap kan losweg in twee katagorië verdeel word: Handgereedskap en kraggereedskap. Beserings as gevolg van handgereedskap kan gewoonlik tuis behandel word met staaldruppels en pleisters, terwyl onderonsies met kraggereedskap gewoonlik in die hospitaal eindig.

Die handgereedskap het ek in 6 hopies uitgepak. Moersleutels (spanners); Tange; Skroewedraaiers en beitels; Hamers; Meettoerusting; en Snytoerusting. ‘n Moersleutel word gebruik om die vel op jou kneukels te verwyder deur die een kant oor ‘n bout of moer te plaas en aan die ander ent te druk of trek totdat dit gly en jou hand gevolglik teen die naaste stuk skerp metaal van sy velle ontneem. Sommige moersleutels is in Newton meter afgemerk sodat jy presies weet hoe hard jou hande met die skerp metaal kontak gemaak het. Die belangrikste moersleutels is 10, 13 en 17mm. Met hierdie drie sleutels kan jy ‘n hele Ford uitmekaarmaak en weer aanmekaarsit, indien jy hulle kan kry. Dit is alombekend dat jy nooit ‘n 13 spanner kan kry wanneer jy een nodig het nie, daarom die tang. ‘n Tang se primêre funksie is om boute en moere se koppe rond genoeg te maak dat geen moersleutel meer daarop kan werk nie. Dit is ook baie handig om bloedblase op vingerpunte te veroorsaak. Spesiale vermelding moet hier gemaak word aan die vicegrip, baie handig om al die hitte van die stuk wat jy pas gesweis het na jou handpalm te gelei.

Beitels en skroewedraaiers se elegante lang en dun ontwerp met skerp punte maak dit uitstekend om gate in goed te druk. Handpalms is veral geneig om aan die ontvangkant van hierdie gate te wees en om ‘n hamer te gebruik om die skroewedraaier mee te slaan verseker dat jy maksimum skade kan aanrig. Soos met eetgerei en borde, het jy altyd ‘n goeie stel beitels en skroewedraaiers in die kas terwyl jy met die goedkoop halfslyt stel aansukkel. Van eetgerei gepraat, die kombuismes is steeds die gekose instrument om enige skroef mee los te draai.

Die hamer verdien ‘n referaat op sy eie. Oorspronklik gebruik vir oorlog is dit die enigste gereedskap toegewei aan breek eerder as regmaak. Algemene konsensus is dat indien jy nie regkom met die hamer wat jy gebruik nie, gaan haal ‘n groter hamer! Hamers met kort stele word tipies gebruik om die vingernaels mee blou te slaan, die duim is ‘n gunsteling, terwyl swaarder hamers met langer stele ideaal is om maermerries mee by te kom. Meettoerusting in die algemeen verskaf eenvoudig nie die bloed en derms beserings wat die kykers verwag nie, so nie baie tyd is hieraan gewy nie. Staal maatbande dien slegs papercuts toe terwyl die veer die maatband laat terugrol in sy dop in. Potlode steek jou soms in die foefenjors as jy gaan sit met die potlood in jou agtersak. Laastens snytoerusting. Hierdie tipe gereedskap skakel aandrywing deur die mens verskaf om in totaal lukrake beweging wat glad nie ooreenstem met die merk of lyn wat op die materiaal getrek is nie. Hoewel beserings algemeen is, is dit selde ernstig genoeg vir ‘n hospitaalbesoek.

Enige van bogenoemde kan kan ook gebruik word as ‘n joumoer tool. Dit is ‘n stuk gereedskap wat geslinger word wanneer jou frustrasievlakke kookpunt bereik terwyl jy op top volume bulder “Jou moer man!” Neem kennis dat daar ‘n sterk moontlikheid is dat die joumoer tool daardie breekbare item sal tref wat jy in die verste hoek van die werkskamer neergesit het om dit teen skade te beskerm. Daar is ook ‘n wesenlike waarskynlikheid dat dit die volgende stuk gereedskap gaan wees wat jy nodig kry.

Net die diepte wissel

Vanoggend plak sy die koppie koffie so hard op die tafel neer dat die helfte daarvan met ‘n boog uit die koppie skiet en in ‘n poel rondom die koppie gaan lê. “Ek het ‘n appeltjie met jou te skil”

Om ‘n appeltjie te skil is net ‘n knerts minder ernstig as “ons moet praat”. Rooi ligte begin agter my oë flits en iemand skree aanhoudend oor die interkom “Battle stations, battle stations. Man your battle stations!” In die braafste stemmetjie wat ek kan bymekaartrek antwoord ek terug. “Wat’s fout liefie?”

Ek het gisteraand weer versium op my CPAP op te sit, en het natuurlik weer so lustig gesnork dat sy nie kon slaap nie. Die tor wat die toutjies trek pluk liaseerkabinette oop op soek na ‘n vooraf bedinkte verweer wat ons nie onlangs gebruik het nie. Hy kry een, ons is reg.

“Jy het nie vir my by die Wimpy gewag nie!” Ek is al twee paragrawe in met my verweer toe die kyk op haar gesig my waarsku dat ons nie uit dieselfde gesangeboek sing nie. “Sorry wat!?, vra ek versigtig” Tor slaan desperaat die sompompie om te bereken hoe lank ons kan soek na ‘n hospitaal wat plek oop het voor bloedverlies die liggies afsit.

Sy het gedroom ons is op een of ander roadtrip waar ons elkeen ‘n bus vol mense bestuur, en in die droom het ek nie vir haar by Bloemfontein se Eenstop gewag sodat ons saam by die Wimpy kan eet nie. My admin tor kon nie ‘n verweer daarteen opspoor nie.

Om ‘n kamer te deel met ‘n van Helsdingen is altyd gevaarlik, maar nooit vervelig nie.

P.S. As enige iemand ‘n soliede verweer het teen nonsens wat jy in ‘n droom aangjaag, stuur maar aan asseblief. Ons is bereid om te betaal

Steeds geskroef, maar met humor

What’s on my mind? Eintlik nogal baie, dankie dat jy vra Bakkiesboek.

By die huis gaan dit goed. Ek het ‘n behoorlike duik gemaak in mamma se lysie van agterstallige huistakies en die plekkie lyk sommer spiekeries. Dis nou nog net daai merske sesvoet gat wat sy my in die agterplaas laat grawe het wat iets in geplant moet kry, dan is die tuinwerk ook afgehandel. Pynappelbier maak ook nie vir mamma naastenby so aggressief soos Klipdrift nie.

Die makro sosio-ekonomiese klimaat stem my tot kommer, nie omdat ek enigsins ‘n idee het wat dit is nie (maar dit klink erg belangrik), maar omdat my angsversteuring post traumatiese skok opgedoen het en dit laat my komkommer selfs wanneer daar niks is om bekommerd oor te wees nie. In ‘n wêreld wat tans verdeeld is tussen nou is die eindtye en alles is ‘n komplot deur pienkes en die brein of die boksombende vir dominansie, is ek die outjie in die middel vasgebind op die treinspoor wat orals gelyk probeer kyk sodat ek darem net die trein se nommer kan vat wat my gaan platry.

Oorkant die groot soutdam is die ou met die slegte combover en die ou met die veterogies in ‘n ernstige handelsoorlog gewikkel. Ek kies nie kante nie, maar wanneer die groot honde kyk wie sy been die hoogste kan lig, raak die klein hondjies feitlik altyd nat. Boonop is daar na bewering ook die een of ander pandemie wat rondsluip op soek na oumense, rokers en vet mense om te bespring. As die gesnak na asem van die uwe wat probeer fisiese arbeid pleeg agter daai lapdingetjie oor my input ports enige indikasie is van wat die virussie kan doen, dan is dit nogal ernstig. Wanneer my tyd kom om bespring te raak sal ek maar my mond en keel met seep uitwas, Dove of baba sjampoo of iets met gebalanseerde pH vir sensitiewe vel. Die virus hou glad nie van seep en water nie

Nader ter plaatse het ons goewerment genadiglik besluit om die groot honde alleen te los, maar hulle eie veglustigheid laat hulle toe sommer oorlog verklaar teen hulle eie mense. Ek het lank getob oor hoe ek daaroor voel maar toe besluit dat oom Cyril en die kat onder die hoed eenvoudig net nie genoeg manne het om dit ‘n fair fight te maak nie, so ek sal hulle nie pla nie.

Die rookverbod was egter ‘n baie lae hou, en nie omdat ek ‘n roker is nie. Daardie verslawing het ek reeds 14 jaar gelede ingeruil vir ‘n cholesterol, suiker en koolhidraat verslawing wat 3 van my dokters slapelose nagte gee. Ek het willens en wetens ‘n van Helsdingen loop trou. ‘n Kalm van Helsdingen is reeds ‘n handvol, maar een wat nie kan rook nie is ‘n problematiese toedrag van sake. Sigarette van enige herhenbare handelsmerk het nou so onbekombaar (lees is jy fokken mal duur) geraak dat selfs my Ford bakkie opgehou rook het. Nou deel ek ‘n leefspasie met einste van Helsdingen met ‘n oggendhoesie soos ‘n Gunston roker oor die donkiedrol en kakiebos konkoksies wat sy geforseer is om te rook en ‘n ongebruikte gat in die agterplaas. Besef niemand dat dit ‘n baie meer teenswoordige bedreiging van my welsyn is as ‘n virus nie?

So wat is on my mind Bakkiesboek? Mens het nie oge in sy agterkop soos ‘n vrou nie, so mens het hopeloos te min oë om alles te probeer dophou wat dreig om mens plat te ry. En dit gee mens se anxiety PTSD.

Hoe sê jy nou Vleisbroek? Jy was net beleefd? Jy wou nie regtig weet wat op my mind is nie? Wel fyn dan! Loop trap op n lego, saam met die goewerment, die denialists, die conspiracy theorists en die healty lifestyle smouse.

Te min toebroodjies

Die gangetjies van ‘n mens se onthou is darem maar ‘n wonderlike ding. Daar doen tans weer een van daardie vraelys speletjies op Bakkiesboek die rondte waar een van die vrae is of jy al ooit iemand sien doodgaan het. ‘n Oud blogger, van julle sal hom onthou as Jan Twak, deel op sy eie muur oor hoe hy reeds drie keer daardie traumatiese ervaring gehad het. Dit laat my dink aan my eie persoonlike neef, nie hoe hy is langs my doodgeskiet is in ‘n rooftog nie, maar wel ‘n sekere insident met ‘n toebroodjie.

Dit is 1994, ‘n groot jaar vir Suid Afrika. Ek bly gedurende die week by my oom en tante aan huis in Krugersdorp terwyl ek my praktiese jaar vir my studies voltooi. Ek en twee van my neefs werk saam met my oom in sy bouonderneming, ek is op 20 die oudste van die 3 “seuns”. Die fisiese aard van die werk wat ons doen, plus ons ouderdomme maak dat my tante haar hande redelik vol het om ons gevoer te hou.

Soggens word daar vir elkeen ‘n skaftien (kosblik) gepak. Tipies was hierdie skaftien ‘n tweeliter roomysbak volgepak met soveel toebroodjies as wat daarin geforseer kan word, saam met ‘n fles koffie.

Telkemale oor etenstyd kon jy vir neef Raymond hoor mor oor hoe onregverdig dit is dat enige normale mens met so min toebroodjies oor die weg moes kom. Maak nie saak hoeveel ekstra toebroodjies gepak is nie, Ray-Ray het bly kla.

En Wintersoggend het my tante duidelik genoeg gehad van Raymond se gekerm in ‘n vloermoer tipies aan ons familie sny sy een hele tuisgebakte brood (nie vandag se winkelbrood wat so dun gesny is jy kan koerant daardeur lees nie) in die lengte deur, pleister die dag se bestandele daaroor en prop die hele besigheid in een van daardie langwerpige tupperbakke.

Ons was almal reeds wakker en in die kombuis toe daardie monster toebroodjie gebou en verpak was, so ons wis toe nou wat gaande is. Raymond was oudergewoonte laat, so kom etenstyd hou ons hom almal dop om sy reaksie te sien. Toe hy die kosblik oopmaak kon jy die teleurstelling op sy gesig sien. “Ek sien ons kry alweer net een donnerse broodjie vandag”

Drukgang by die hospitaaldeur

My internis het ‘n motiverende spanpraatjie met my belê vir vroeg in die nuwe week. Julle weet, daardie stuk waar sy raas oor my kollestrolle, my vetrolle en my suiker, en ek maak asof ek jammer is. Ter voorbereiding en stawing van die raas wat ek gaan kry het sy ge-order dat ek twee liter bloed en ‘n paar monsters moet indien, wat ek sommer vanmore by ‘n hospitaal hier naby die werk loop doen het.

By die deur van die hospitaal is ‘n drukgang opgerig wat lyk soos die een op die plaas wat ons gebruik wanneer die beeste gedip moet raak. In die gang is daar vier hekke. Hek nommer een wys ‘n nurse ‘n ding in my rigting wat lyk soos ‘n stun-gun. Ek hensop onmiddelik, waar sy verduidelik dit is net om my temperatuur te neem. Skynbaar tevrede met die resultaat vra sy my uit oor my mediese geskiedenis. Blykbaar het my klem in die kaak inspuitings al verval en ek is agter op my vlooi inspuitings. Sy dose my sommer daar op die plek en stuur my met vier Bob Martins in die hand na die volgende hek toe.

Twee jong grizzlies met donkerbrille ontvang my en ondervra my vir ‘n kwartuur lank op ‘n leunverklikker masjien oor my reise die afgelope ses maande, of my belasting op datum is en of my onderklere skoon is. Ek slaag net-net maar verklik vir Windpomp oor hy laasweek sonder ‘n visliksens gaan visvang het. Sorry bra, hulle het my gemartel met Kurt Darren musiek. Ek confess ook dat ek nie werklik my skoonma haat nie. Hulle laat gaan my en ek meld by hek nommer 3 aan.

‘n Ou in ‘n geel Hazmat speelpakkie spuit my van kop tot tone nat met ‘n gifspuit. Ek moet sê, dit is die lekkerste wat ek geruik het sedert my laaste bad in September. By die laaste hek loer ‘n kwaliteitsbeheer beampte met ‘n clipboard en ‘n ultra violet lig in al die donker en bitter plekke in, sowel as agter my ore en tussen my tone. Tevrede dat die ou met die geel speelpakkie behoorlik gespuit het kram hy ‘n groen papiertjie teen my voorkop vas wat sê “Cleared for Entry” Die bloed tap kon hulle binne minute afhandel en ek is by ‘n ander drukgang weer uit. Hierdie slag word ek slegs ge-cavity search om seker te maak ek smokkel nie toilet papier uit nie.

Halfpad terug werk toe lui die foon. Dis Ampath. Hulle het vergeet om een van die monsters te neem, kan ek asseblief gou terugkom? By die drukgang wil niemand glo ek was 10 minute tevore daar nie en ek moet weer deur die stappe gaan. Ek kan nie help om by die laaste hek op te merk benewens die groen papiertjies, is daar ook oranje en rooi papiertjies in daai boks. Ek sal graag wou sien wat gebeur as jy ‘n rooi papiertjie kry. Dit sal definitief nie vir wapens wees nie, want niemand het ‘n woord gerep oor die AK47 op my rug, of die twee handgranate in my broeksakke en die Okapi mes in my kous nie

Soos ‘n vark in modder

46.

Net ‘n random syfer. 46 is vier meer as douglas Adams se magical nommer. 46 is hoe oud my Pa was toe sy stres en depressie hom langboompies toe gestuur het. 46 is hoe oud ek nou is. 46 is waar my vyfjaar en tienjaar planne opgehou het, omdat ek nooit werklik verwag het om veel ouer as dit te word voor my depressie my doodmaak nie.

Maar ek het oorleef.

Ek het ‘n nuwe loopbaan opgeneem. Ek het myself vrygemaak van die papiere met rooi seël teen my muur. Ek het myself vrygemaak van van die angs van onvervulde 6maande, 5jaar en 10 jaar planne.

Ek ry donker weg van die huis af en ek kom donker terug by die huis. Vuil, vol kneusplekke en innig gelukkig.

Ek het oorleef.

253 – Laaste Woorde

Gister is die laaste van my storietjies gepubliseer. Al wat nou oorbly is om hierdie basaar properlies af te sluit.

Eerstens met ‘n waarskuwing:

‘n Blog is ‘n kamera. Dit neem ‘n foto van die hier en nou en projekteer dit in woorde vir almal om te sien.

‘n Foto wys nie wat links van dit staan nie, ook nie regs nie.
‘ n Foto kan nie wys wat vooraf gebeur het, of wat volgende gebeur het nie.

‘n Blog is ‘n foto, ‘n grepie uit my lewe hier en nou.

‘n Grepie wat ek versigtig gekies het om met jou te deel.

Moet nooit aanneem jy ken iemand omdat jy hulee blog gelees het nie, moet ook nie jou lewe met hulle s’n vergelyk nie. Jy het geen benul wat hulle reis behels nie

Dan ‘n bedanking in die vorm van ‘n welkom bordjie wat ek eens op een van my blogs gebruik het:

Tevrede! Roep die plekbord, en verminder tog spoed

uitgehang pryk handelaar se naam teen ‘n hoed

Troeteldiere welkom, ook jou man of jou vrou

los maar elders jou gadgets vir nou

die winkel se vloer is bra leeg en kaal

hoe dan gemaak om ‘n wins te behaal?

geselskap!, liewe reisiger, ‘n verposing in die jag

garneer met menslikheid, beklemtoom met lag

en vir dié rariteit hoeveel geld te verhaal?

u teenwoordigheid het reeds die som betaal

 

Groetnis.

Ons arme bloedjies

Hoe het ons ma’le ons ooit grootgekry sonder Google en Youtube. Of het dit dalk juis beter met ons gegaan juis omdat ons nie Google en Youtube gehad het nie?

Anyhoo. Hier is nog ‘n klompie van my joutjoep guilty pleasures

Wie onthou hierdie tune? Die video laat my altyd giggel.

Hierdie klink soos ‘n weervoorspelling

Is daar iemand wat nie iewers op hulle playlist ‘n ABBA liedjie het nie?

Om weer 18 te wees…

Moet nooit ophou droom nie

En nou vir ‘n bietjie van ‘n local flavour…

Of dalk ‘n bietjie Popmusiek, steeds local.

Dalk bietjie local rock.

Afrikaans is ook mos local. As dit nie die woorde bokkie, bekkie, bybie, sokkie of tjoklit in het nie, is sommige goed heel luisterbaar.

Dit is wel aanvaarbaar om oor Nougat te sing.

…en van geelperskes.

As ‘n mens na hierdie lirieke luister kon die song netsowel vanmore geskryf gewees het.

Nog ‘n verset liedjie uit die donker dae

Die lys van kunstenaars met wie ons grootgeword het, maar ons vooruitgegaan het raak al langer.

Wie onthou nog vir PJ Powers?

En Mango Groove?

En dan wass daar die downright bizar, maar met ‘n tune wat steeds in my kop vassit.

252 – The ultimate human race

Wag! Het die oumanne altyd vir my gesê. Hierdie is nie ‘n ding vir jaag nie, hierdie is ‘n ding vir geduld. Die ideale tyd vir jou eerste Comrades is na jy ten minste dertig somers gesien het, dan het jy al bietjie stadiger geword, maar dan is jou lyf ook sterk genoeg van jare se hardloop om die hammering te kan vat.

Lag nou maar eers klaar, ek sal wag …

Teen die tyd wat ek dertig geword het het ek marsjeer op die noot van ‘n ander drom, dié een het beduie dat net iemand wat iets gesteel het hardloop. Nou is veertig lewensgroot in die windskerm en ek het nie nog steeds nie ‘n medalje van die ultimate human race in my kas nie.

Ok kyk, lag is een ding maar om te point is heel ongeskik …

Ek lyk verseker nie soos jou gemiddelde ultra marathon atleet nie, daarvoor is my dimensies hopeloos te rojaal , maar op die vooraand van hierdie jaar se resies wil ek darem my intensies bekend maak om te gaan deelneem voordat die bootman my oor die rivier Styx moet karwei.

Glo dit as jy wil, maar van al die versugtinge wat ek op Donderdae tot dusver teen my wenslysie plakbord opgehang het,  staan hierdie een die grootste kans staan om verwesenlik te word omdat ek alreeds daaraan begin werk het. Nee daar is die kortpaaie nie en die vroegste wat ek realisties kan gaan aantree by die wegspring is in 2017, miskien ‘n jaar voor dit as dinge baie goed verloop.

Hopenlik wag jy vir my by die wenstreep met ‘n rolstoel en ‘n koue bruisdrankie van Germaanse oorsprong. As jy ‘n regte pêl is kry jy my by die wegspring.