253 – Laaste Woorde

Gister is die laaste van my storietjies gepubliseer. Al wat nou oorbly is om hierdie basaar properlies af te sluit.

Eerstens met ‘n waarskuwing:

‘n Blog is ‘n kamera. Dit neem ‘n foto van die hier en nou en projekteer dit in woorde vir almal om te sien.

‘n Foto wys nie wat links van dit staan nie, ook nie regs nie.
‘ n Foto kan nie wys wat vooraf gebeur het, of wat volgende gebeur het nie.

‘n Blog is ‘n foto, ‘n grepie uit my lewe hier en nou.

‘n Grepie wat ek versigtig gekies het om met jou te deel.

Moet nooit aanneem jy ken iemand omdat jy hulee blog gelees het nie, moet ook nie jou lewe met hulle s’n vergelyk nie. Jy het geen benul wat hulle reis behels nie

Dan ‘n bedanking in die vorm van ‘n welkom bordjie wat ek eens op een van my blogs gebruik het:

Tevrede! Roep die plekbord, en verminder tog spoed

uitgehang pryk handelaar se naam teen ‘n hoed

Troeteldiere welkom, ook jou man of jou vrou

los maar elders jou gadgets vir nou

die winkel se vloer is bra leeg en kaal

hoe dan gemaak om ‘n wins te behaal?

geselskap!, liewe reisiger, ‘n verposing in die jag

garneer met menslikheid, beklemtoom met lag

en vir dié rariteit hoeveel geld te verhaal?

u teenwoordigheid het reeds die som betaal

 

Groetnis.

Ons arme bloedjies

Hoe het ons ma’le ons ooit grootgekry sonder Google en Youtube. Of het dit dalk juis beter met ons gegaan juis omdat ons nie Google en Youtube gehad het nie?

Anyhoo. Hier is nog ‘n klompie van my joutjoep guilty pleasures

Wie onthou hierdie tune? Die video laat my altyd giggel.

Hierdie klink soos ‘n weervoorspelling

Is daar iemand wat nie iewers op hulle playlist ‘n ABBA liedjie het nie?

Om weer 18 te wees…

Moet nooit ophou droom nie

En nou vir ‘n bietjie van ‘n local flavour…

Of dalk ‘n bietjie Popmusiek, steeds local.

Dalk bietjie local rock.

Afrikaans is ook mos local. As dit nie die woorde bokkie, bekkie, bybie, sokkie of tjoklit in het nie, is sommige goed heel luisterbaar.

Dit is wel aanvaarbaar om oor Nougat te sing.

…en van geelperskes.

As ‘n mens na hierdie lirieke luister kon die song netsowel vanmore geskryf gewees het.

Nog ‘n verset liedjie uit die donker dae

Die lys van kunstenaars met wie ons grootgeword het, maar ons vooruitgegaan het raak al langer.

Wie onthou nog vir PJ Powers?

En Mango Groove?

En dan wass daar die downright bizar, maar met ‘n tune wat steeds in my kop vassit.

252 – The ultimate human race

Wag! Het die oumanne altyd vir my gesê. Hierdie is nie ‘n ding vir jaag nie, hierdie is ‘n ding vir geduld. Die ideale tyd vir jou eerste Comrades is na jy ten minste dertig somers gesien het, dan het jy al bietjie stadiger geword, maar dan is jou lyf ook sterk genoeg van jare se hardloop om die hammering te kan vat.

Lag nou maar eers klaar, ek sal wag …

Teen die tyd wat ek dertig geword het het ek marsjeer op die noot van ‘n ander drom, dié een het beduie dat net iemand wat iets gesteel het hardloop. Nou is veertig lewensgroot in die windskerm en ek het nie nog steeds nie ‘n medalje van die ultimate human race in my kas nie.

Ok kyk, lag is een ding maar om te point is heel ongeskik …

Ek lyk verseker nie soos jou gemiddelde ultra marathon atleet nie, daarvoor is my dimensies hopeloos te rojaal , maar op die vooraand van hierdie jaar se resies wil ek darem my intensies bekend maak om te gaan deelneem voordat die bootman my oor die rivier Styx moet karwei.

Glo dit as jy wil, maar van al die versugtinge wat ek op Donderdae tot dusver teen my wenslysie plakbord opgehang het,  staan hierdie een die grootste kans staan om verwesenlik te word omdat ek alreeds daaraan begin werk het. Nee daar is die kortpaaie nie en die vroegste wat ek realisties kan gaan aantree by die wegspring is in 2017, miskien ‘n jaar voor dit as dinge baie goed verloop.

Hopenlik wag jy vir my by die wenstreep met ‘n rolstoel en ‘n koue bruisdrankie van Germaanse oorsprong. As jy ‘n regte pêl is kry jy my by die wegspring.

250 – Allegaartjie

Hello?
Is there anybody in there?
Just nod if you can hear me.

So lees die persverklaring van die body corporate van Korrelkop inc. gisteraand op bakkiesboek. Die lieftallige vroutjie het dit gelike en hoewel ek dink sy is bevooroordeeld – sy bied ook lesse aan in hoe om ‘n man se ego te streel . EGO! Ek het gesê ego. Hou nou maar op met bloos – dink ek ook dat sy sou verstaan wat ek wou sê. Die blêrrie dominee van alle mense het ‘n kommentaar gelos, vir die moeite sal ek nou maar nie met hom verder skoor vandag nie. Hierso preacher man, hier is jou vrugterol: vandag sit jy in die soet hoekie.

Ek kan niemand kwalik neem wat nie die woorde herken het nie, maar ek neem eksepsie indien iemand in vandag se tyd nie google kan gebruik nie. Die woorde is die eerste salvo van Pink Floyd se Comfortably Numb, wat by implikasie is waar ek nou is: Comfortably numb, en dit is ‘n baie gevaarlike plek vir my om te wees. Normaalweg is ek  ‘n vreeslik vredeliewende ou, sommige beweer selfs ek is ‘n aartspasifis. NEE ek is NIE die Stig nie , hoewel the Prick somtyds genoem word. Wanneer ek in hierdie staat van pis en asyn is raak ek ongelukkig heel skorerig en het ‘n opinie oor alles en almal. Byvoorbaat verskoning.

Aanvanklik was die gorrel se titel smorgasbord, maar eerstens het ek self eers gedink dit is ‘n tipe kaas en boonop weet ek nie of dit anglisisties is nie. Netnoumaar kom loop spring die taalpuriste saam met die spelpoelieste op my rug. Wanneer dit eendag my streslysie haal sal ek weet dat die lewe my goed behandel. Moving on… Toe ek weer begin blog het as Korrelkop was dit met die beste intensie om dinge lekker lig en onpersoonlik te hou, maar blogging het so verander, deels as gevolg van tegnologie, dat ‘n mens dit deesdae netsowel vir die oorspronklike doel kan gebruik : As aanlyn dagboek eerder as kuierplek.

Dear diary…

Ek sit hier in die suide in die mak wêreld waar die paaie heel is en die rugbyspanne stukkend. Praat van rugby: Verbeel ek my of word die klonge al groter? Toe ek unversiteitsrugby gepleeg het was ek op eenhonderd en sewe kilogram ‘n groot haker, deesdae is die reserwe lemoen uitdeler groter as dit. Ewenwel, dit was tot dusver ‘n uiters frustrerende week, soveel so dat as ek ‘n kinners was het ek sekerlik my tande in iets geslaan. Verkieslik iets wat ‘n benoude gil sal gee in respons. Ons klasifiseer hierdie een as ‘n standbeeld week, en in die parkie waar my standbeeld staan word daar hierdie week gratis vlieglesse vir die koeie en die varke uitgedeel. Verskoon ook maar die kort onsamehangende sinne. My sin en die enigste mens op my golflengte  is presies 1460km van hier af, en ek het nou nogal nodig om deur haar vertel te word ek issie mal nie…al weet ek sy lieg oopoë en al pes ek dit wanneer sy my sinne klaarmaak.

Laasweek het ek vir ‘n ander blogger beduie dat ek ’n paar idees het rondom die vraagstuk van of ‘n mens nog kinders in hierdie wêreld moet inbring. Grootbek ekke, maar daai idees is nou weg soos laasmaand se salaries. So nou los ek maar net een.  Onlangs vra die lieftallige vroutjie vir my of ek steeds met haar sou trou as ek vooraf kennis gehad het van die depressie en kinderloosheid en al die ander peste wat ons al bogeval het. Dit was natuurlik een van daardie strikvrae soos of die broek haar wegstap duideliker maak, en ek het pens en pootjies in die strik geval. Ek het nee geantwoord, want ek sou dit nie met voorbedagte rade aan haar wou doen nie. Na ‘n aansienlike skrobbering het sy my laat verstaan dat sy, en nie ek nie, die een moet wees om daardie besluit te maak. Ek dink dieselfde argument behoort te geld vir kinders. Hoewel hulle nie vra om gebore te word nie, moet hulle die besluit kan maak later in die lewe of hulle hier wou wees al dan nie…

Ons het eergister besluit dat deel van die feesprogram wanneer die lieftallige vroutjie se twintigste verjaarsdag vir die tweede rondte verbykom ‘n padlangse vakansie deur Namibië sal insluit. Sy is so opgewonde dat sy nie eers die implikasie besef het toe ek die road trip persent no #3 gedoop het nie. [evil laugh]

251 – O Maandag laat my staan

So spoeg hy as hy praat
O so spoeg hy as hy praat
En maak hy kliphard aanmerkings oor alles en almal wat hy haat

Ek is ‘n oggendmens maar ek is nie ‘n Maandagoggendmens nie. Ek het die idee gehad om die Maandag inskrywings te gebruik om te biets oor dinge wat my krap synde dat die gemoedstoestand op Maandae reg is vir ‘n behoorlike borsskoonmaak, maar ek kon aan niks dink waaroor ek vir meer as vyftig woorde kon rant nie. Ek skat my lewe is dan seker nie so vrot nie, of my forgettery is definitief beter om te verbeter. Plan B dan…nog ‘n dagboekinskrywing.

Liewe dagboek,

Wanneer hierdie griffel in jou inboks aanland is die uwe 11km bokant die grond ingeprop soos ‘n tuna in die groenspan se sardynblik oppad platberg toe. My vertoë dat die groenspan ook nou maar van die Waterkloof of Swartkop lugmagbasisse af vlieg het op dooie ore geval hoewel ek steeds dink dit is ‘n goeie plan. Met die lughawebelasting kan die lugmag brandstof bekostig vir die vegvliegtuie en die inwoners van Tshwatoria het ook ‘n lughawe op hulle voorstoep. Ek skat die manne en maninne wat die besluit moet maak het reeds hulle swaarverduisterde geld in die lughawemaatskapppy belê en dit is waarom hulle nie wil byt nie

Hoe koud is die windjie en skraal…

Die nuwe oefenplan bepaal dat ek op Sondae ook ‘n sessie insit. Winter is hier, en indien die feit dat dit eers lig genoeg word om te sien hier teen die ses kilometer merk nie aanduiding genoeg is nie, dan het die luggie wat vanmore so genadeloos aan my ore gebyt het dit sekerlik weggee. Binnekort sal ek maar my beanie uit die kas moet grawe. ‘n Scruffy looking karakter in donker geklee in ‘n donker straat met ‘n swart beanie op het die potensiaal om die buurtwagpatrollie weer ‘n paar keer by my te laat stop. Ek moet regtig maar belê in ‘n glimbaadjie of iets wat my identifiseer as iemand wat nie onreine intensies het nie. Dit sal natuurlik ook nie nodig wees as skuldbult se inwoners net hulle ‘lektriek rekeninge wil betaal sodat hulle straatligte kan brand nie.

Dit is gewoonlik op hierdie lang sessies waar ek my idees vir inskrywings uitbroei, maar vandag wou dit nie gebeur nie. Ek moes egter lagkry toe ek ‘n ander roete huis toe geneem het en verby ‘n winkel stap met die naam Sewing Machine Clinic. So hoog Ingilse naam in ‘n konserwatiewe Afrikaanse woonbuurt, maar toe besef ek dat sou die naam in Afrikaans gewees het sou mense hierlangs dit nie ondersteun het nie denkende dat dit die soort plek is waar Tiger Woods homself sou inboek. Die dinge wat ‘n mens doen om die afstand klaar te kry darem..

Ewenwel. Nuwe eetplan. Nuwe oefenplan. Week 1 is agter die rug en ek het ‘n volle 3.4kg reclaim, let wel nie verloor nie. Wat daai gewig het ek al drie maande terug verloor…en toe weer aangesit. Newe effekte: My skeenbene is effens seer en my ego erg gekneus, beide as gevolg van die fartlek oefeninge. Ek het laas fartlek gepleeg toe ek nog soos die foto in my ID boek gelyk het en ek moet erken dit was nogal lekker om weer ‘n slag voluit te hardloop met die wind in my hare. Die gesig van ‘n 130kg man op volspoed is nie iets wat ‘n mens aldag sien nie, en die tannie van die ouetehuis wat verby my gestap het met haar loopraam het haarself ook verkyk aan my. My volspoed is duidelik nie meer soos ek dit onthou nie.

Op die bouery front is daar ook stadige vordering. Die loodgieters- en elektiese werk is nou heeltemal klaar en die plafonne in. Al die mure waarvan ek die verf moes afkuur sodat dit geteël kan word is ook nou klaar, sowel as die vloer waar die vinylteëls opgeplak was en ek die gom moes afhaal. Drie hoekslypers is deur die Jordaan gedurende operasie stofgat… Om teëls gekoop te kry wat binne almal se smaak en die begroting val, en dan om toesig te hou terwyl dit ingesit word (ek gaan dit nie self doen nie want dan maak ons nooit hierdie jaar klaar soos ek belowe het nie) is die laaste groot struikelblokke voor ons die pylvak van hierdie projek binnegaan.

Eers moet die besigheid in Platberg eers hierdie week weer platgespeel word voor ons kan terugkeer na die bouery toe. Het ek al genoem ek hou niks daarvan om weg te wees van die huis af nie?

249 – Durf ‘n mens hoop?

Sleepvoet kan nie eers begin om te beskryf hoe ek voel oor Maandae nie. Op ‘n Maandag sit die Sunday blues nog hopeloos te vlak in my keel om enigsins opgewonde te wil raak oor die vooruitsig van ‘n nuwe dag. Indien daardie dag boonop ‘n werkswinkel met die uwe as hoofnar insluit, dreig rou vrees om my die vlaktes in te loop jae.

Ek raak maar so voor elke vertoning, die vrees ding nou. Seker maar oor ek van nature half menssku is, maar die show moet voortgaan soos die Ingilsman sal sê. Daar was minder as ‘n halwe klas om mee te begin en die helfte van die groep het boonop op die laaste minuut kanselleer. Soveel so dat toe die uur aanbreek sit ek met net twee afgevaardigdes, beide net so vaal soos ekke, beide praat dieselfde dialek as ekke, beide wys netsoveel grys soos ekke.

Op die ingewing van die oomblik besluit ek om die formaat bietjie aan te pas. Instede van ‘n formele lesing neem ons aldrie plekke in om die tafel en begin gesels rondom die onderwerp materiaal, net drie ouens besig om ‘n gesprek te voer.

En het daardie gesprek nie net my dag verander nie, maar sommer my hele uitkyk. Ons industrie, soos baie ander, trek tans noustrop. Daar is regtig baie struikelblokke en baie om oor te kla. Ek vra oudergewoonte die vraag waarmee ek altyd open: Hoekom is jy hier? Wat wil jy wegneem uit hierdie dag? Die een man antwoord my soos volg: Hy is so drie jaar of wat ouer as ek en is ‘n salaristrekker by ‘n firma. Hy het gekom omdat hy alles wil leer wat hy moontlik kan om die diens wat hy vir sy maatskappy lewer te verbeter. Hy sien dit as sy plig om die organisasie wat kos op sy tafel sit te verteenwoordig tot die beste van sy vermoë.

Ek was stomgeslaan, en dit moes duidelik op my gesig geskryf gestaan het. Ten spyte het albei die here in ons gesprekke vir die res van die dag my oortuig van die absolute passie wat hulle het vir die industrie waarin ons werk, en die plek waar on bly.

Ek het nie geweet sulke mense bestaan nog in my beroep nie, en veral nie binne die demografie waarin ek klassifiseer word nie. Durf ‘n mens hoop dat daar nog sulkes is?

 

 

 

 

 

248 – Lewensmaats en minnaresse

Goed, ek moet bieg. Die titel is met opset gekies om misleidend en sensasionalisties te wees. Sex sells beweer die Ingelman, en sover my ondervinding strek mag hy dalk net ‘n punt beet hê (geen kwinkslag bedoel nie). Ewenwel, hierdie gorrel het niks met skelm seks te doen nie maar alles met affairs…van die geografiese tipe.

Toe die korrelkop nog niks meer as ‘n kopbeen was nie het die wêreld anders gewerk as vandag. Die oorgrote meerderheid van die korporatiewe posisies was in die sakekern van die dorp of stad saam met die gewone kettingwinkels. Die stad was op sy beurt omring was deur die nywerheidsgebiede waar die blouboordjie klasse gewerk het. Families het in woonbuurte gewoon waar dit gerieflik naby die werk, skole, busroetes ensovoorts was, amper soos die hedendaagse hotel 224 – met apologie aan nie- inwoners van die snorstad. So ‘n bietjie local humor. Jy kon vir ‘n maatskappy begin werk en 35 plus jaar later aftree by dieselfde maatskappy.

Vandag word iemand wat nie ten minste elke 3 – 5 jaar van werk verwissel nie gesien as stagnant en ambisieloos. Voorts word al meer mense gedwing om in ander stede en selfs ander kontinente as die adres op die RICA en FICA vorms hulle brood te verdien. Die uwe is een van die gelukkiges in hierdie verband. Ek is gewoonlik nie langer as 5 of 6 dae aaneenlopend uitstedig nie, ook nie meer as 10 dae per maand nie. Boonop is meeste van hierdie reise in ons eie land met ‘n ekskursie na ‘n buurland per geleentheid. ‘n Mens kan beswaarlik anders om oor tyd ‘n gevoel jeens hierdie plekke op te bou nie.

Indien jy somtyds wonder of mense nog enigsins passievol oor iets kan word, vra hulle bietjie na die dorp of stad waar hulle woon.  Veral Kapenaars is heel uitgesproke oor die plekke waar hulle bly, en met goeie reg ook. Die Weskaap is beeldskoon, interresant, opwindend en al die ander dinge wat ‘n mens van ‘n minnares sou kon verwag. Bloemfontein, Windhoek, Kimberley, Nelspruit en so ‘n paar ander is soos om verlangse familie te besoek. Dit is vaagweg bekend maar jy is nooit heeltemal op jou gemak nie. Durban, PE, Polokwane is soos ‘n boordeel. Jy betaal jou fooi, doen waarvoor jy gekom het en verdwyn voordat iemand jou dalk herken.

Ongeag watter plek ek my brood verdien, dit is eintlik niks anders as ‘n gewone affair nie, ek sal nie los wat ek het daarvoor nie. Party plekke slaan werklik jou asem weg, maar na drie of vier dae begin die nuutje en die opwinding vervaag en wil jy huis toe gaan. Op die langtermyn wen die gemaklikheid van my plek loshande die resies oor die opwinding van die vreemde.

Die Weskaap is my minnares, en ek is baie lief vir haar, maar my huis is in die Noorde. En ek sal altyd teruggaan soontoe.