Goed, ek moet bieg. Die titel is met opset gekies om misleidend en sensasionalisties te wees. Sex sells beweer die Ingelman, en sover my ondervinding strek mag hy dalk net ‘n punt beet hê (geen kwinkslag bedoel nie). Ewenwel, hierdie gorrel het niks met skelm seks te doen nie maar alles met affairs…van die geografiese tipe.
Toe die korrelkop nog niks meer as ‘n kopbeen was nie het die wêreld anders gewerk as vandag. Die oorgrote meerderheid van die korporatiewe posisies was in die sakekern van die dorp of stad saam met die gewone kettingwinkels. Die stad was op sy beurt omring was deur die nywerheidsgebiede waar die blouboordjie klasse gewerk het. Families het in woonbuurte gewoon waar dit gerieflik naby die werk, skole, busroetes ensovoorts was, amper soos die hedendaagse hotel 224 – met apologie aan nie- inwoners van die snorstad. So ‘n bietjie local humor. Jy kon vir ‘n maatskappy begin werk en 35 plus jaar later aftree by dieselfde maatskappy.
Vandag word iemand wat nie ten minste elke 3 – 5 jaar van werk verwissel nie gesien as stagnant en ambisieloos. Voorts word al meer mense gedwing om in ander stede en selfs ander kontinente as die adres op die RICA en FICA vorms hulle brood te verdien. Die uwe is een van die gelukkiges in hierdie verband. Ek is gewoonlik nie langer as 5 of 6 dae aaneenlopend uitstedig nie, ook nie meer as 10 dae per maand nie. Boonop is meeste van hierdie reise in ons eie land met ‘n ekskursie na ‘n buurland per geleentheid. ‘n Mens kan beswaarlik anders om oor tyd ‘n gevoel jeens hierdie plekke op te bou nie.
Indien jy somtyds wonder of mense nog enigsins passievol oor iets kan word, vra hulle bietjie na die dorp of stad waar hulle woon. Veral Kapenaars is heel uitgesproke oor die plekke waar hulle bly, en met goeie reg ook. Die Weskaap is beeldskoon, interresant, opwindend en al die ander dinge wat ‘n mens van ‘n minnares sou kon verwag. Bloemfontein, Windhoek, Kimberley, Nelspruit en so ‘n paar ander is soos om verlangse familie te besoek. Dit is vaagweg bekend maar jy is nooit heeltemal op jou gemak nie. Durban, PE, Polokwane is soos ‘n boordeel. Jy betaal jou fooi, doen waarvoor jy gekom het en verdwyn voordat iemand jou dalk herken.
Ongeag watter plek ek my brood verdien, dit is eintlik niks anders as ‘n gewone affair nie, ek sal nie los wat ek het daarvoor nie. Party plekke slaan werklik jou asem weg, maar na drie of vier dae begin die nuutje en die opwinding vervaag en wil jy huis toe gaan. Op die langtermyn wen die gemaklikheid van my plek loshande die resies oor die opwinding van die vreemde.
Die Weskaap is my minnares, en ek is baie lief vir haar, maar my huis is in die Noorde. En ek sal altyd teruggaan soontoe.